ʼn Deeglike ontleding van die Ekurhuleni-metro se ongeouditeerde jaarverslag en finansiële state vir 2024/25 toon ernstige tekortkominge in bestuur, dienslewering en finansiële verantwoordbaarheid.
Die verslag toon die metro het slegs 79% van sy teikens bereik, terwyl 21% heeltemal misluk het. Hierdie syfer lyk aanvanklik aanvaarbaar, maar by nadere ondersoek is dit duidelik dat die kernareas wat die metro se bestaansreg bepaal, skokkend swak presteer het.
Die finansiële departement het net 56% van sy teikens behaal, ondanks ’n jaarlikse begroting van meer as R50 miljard.
Die diensleweringskoördinasie-afdeling het geen prestasie getoon en geen enkele teiken bereik nie. Dit beteken daar is geen samehangende strategie om basiese dienste soos water, elektrisiteit en vullisverwydering te koördineer nie.
Terwyl sekere afdelings ʼn 100% teiken bereik het, is dit oorwegend ondersteunende en nie-diensleweringsdepartemente.
Die verslag bevestig dat die metro jaarliks miljoene rand verloor aan kabeldiefstal en infrastruktuur-vandalisme. Hierdie dade lei tot langdurige kragonderbrekings, groot herstelkoste en selfs brande wat verdere skade aanrig.
In die 2024/25-finansiële jaar alleen moes die metro meer as R150 miljoen bestee om gesteelde kabels en gevandaliseerde kraginfrastruktuur te herstel. Dié geld is elders broodnodig vir die herstel van paaie, rioolsuiweringsaanlegte en waternetwerke.
Die metro het wel met nuwe projekte soos reservoirs, opgradering van transformators en straatligte begin, maar sonder instandhouding en beskerming teen vandalisme is dit ’n vermorsing van kapitaal.
Die metro het groot beloftes gemaak oor werkskepping, maar die jaarverslag wys die meeste teikens is nie bereik nie en dit in ʼn gebied waar 36,5% van inwoners werkloos is met ʼn jeugwerkloosheidskoers ver bo 40%.
Tot 28,9% van inwoners leef onder die armoedelyn, wat beteken bykans een uit elke drie inwoners het nie genoeg kos om basiese oorlewing te verseker nie.
Boonop is minder as 60% van die geskeduleerde pad- en infrastruktuurprojekte volgens plan voltooi, wat direk bydra tot ekonomiese stremming.
Groot bedrae word ook steeds aan kontrakteurs betaal vir dienste wat nie gelewer word nie.
Projekte word teen opgeblase koste uitgevoer, terwyl die eindproduk gebrekkig of onvolledig is.
Die metro se skuldinvordering bly swak, met miljoene rande wat nooit van agterstallige rekeninge ingevorder word nie.
Die VF Plus dring aan op ʼn volledige ondersoek na die diensleweringskoördinasie-afdeling se totale mislukking en dat begrotingsgeld geherprioritiseer moet word na noodsaaklike grondvlak-dienslewering.
Ekurhuleni se inwoners verdien meer as leë beloftes en gebroke dienste.
Met ’n jaarlikse begroting van meer as R50 miljard, behoort die metro wêreldklas dienslewering te kan verskaf. In stede daarvan word inwoners gedwing om met donker strate, stukkende paaie en besoedelde woonbuurte te leef.


