Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus waarsku lank reeds oor Kubaanse dokters en mediese program

Die VF Plus waarsku jare reeds oor die gebruik van die Suid-Afrikaanse regering om Kubaanse dokters in die land te ontplooi, veral ten koste van plaaslike dokters en mediese personeel.

Amerika het die afgelope naweek aangekondig dat hy van plan is om die visums van regeringsamptenare van Brasilië, lande in Afrika en die Karibiese eilande wat Kubaanse dokters in hul lande toelaat, te herroep.

Volgens die Amerikaanse regering beskou hy die program as dwangarbeid aangesien die Kubaanse regering blykbaar ‘n groot deel van die dokters se salarisse asook hul paspoorte hou.

Tydens die Covid-19-tydperk het die VF Plus herhaaldelik daarop gewys dat die kundigheid van plaaslike afgetrede dokters en verpleegpersoneel voorkeur moes kry. Dit het nie gebeur nie.

Die ANC-regering het voortgegaan en 217 Kubane teen ‘n koste van R240 miljoen na Suid-Afrika te bring.

Kubaanse dokters word gereeld in staats- en provinsiale hospitale gebruik alhoewel daar verskeie ernstige tekortkominge met hul werk is.

Probleme ontstaan onder meer met diagnosering aangesien die Kubaanse dokters nie Suid-Afrika se landstale kan verstaan of praat nie en ook nie vertroud is met die plaaslike omstandighede nie.

Die VF Plus het reeds in 2021 die algemene opvatting beaam dat mediese sorg een van Kuba se grootste “uitvoerprodukte” is.

Die tydskrif Time het in 2018 berig dat Kuba se program om mediese dokters na ander lande te stuur, die Kubaanse staatskas toe aangevul het met sowat R210 miljard per jaar terwyl die dokters glo net tussen 10% en 25% van hul salarisse ontvang het.

Die Amerikaanse regering, by monde van hul minister van buitelandse sake, Marco Rubio, is dus nie verkeerd met sy siening en beoogde optrede nie.

Die ANC was vinnig om die VSA oor sy beoogde optrede te kritiseer, maar oor sy verbintenis met Kuba en die menseregteskendings wat daar plaasvind, word geswyg.

Die VF Plus het vier jaar gelede ook daarop aangedring dat die opleiding van Suid-Afrikaanse mediese studente in Kuba stopgesit moet word aangesien dit ‘n vermorsing van geld was.

Dit was nadat die ANC-regering en die departement van gesondheid nie daarin kon slaag om 500 mediese studente vanaf Kuba na Suid-Afrika te laat terugkeer nie.

Die studente is in Kuba gestrand gelaat sonder hul toelae en kon beswaarlik kos en water bekostig.

Die geld wat Suid-Afrika met die gebruik van Kubaanse dokters en die mediese opleidingsprogram vermors, kan eerder aangewend word vir plaaslike mediese opleidingsprogramme wat deur die land se eie universiteite aangebied word.

Die VF Plus gaan weer daarop aandring dat die regering van nasionale eenheid (RNE) die wanbesteding rondom Kubaanse dokters en mediese programme sonder meer stopsit.

Suid-Afrika kan nie bekostig om sy reeds gespanne verhouding met die VSA verder te laat skipbreuk lei nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.