Die VF Plus verwelkom die jongste verslag van die Amerikaanse departement van buitelandse sake waarin die menseregtesituasie in Suid-Afrika as “aansienlik versleg” beskryf word, met spesifieke verwysing na die regte van Afrikaners en ander minderhede.
Die verslag onderstreep die feit dat die Amerikaanse regering nie sal wegkyk van die situasie in Suid-Afrika nie en dat bilaterale verhoudings tussen die lande nie sal verbeter totdat konkrete stappe geneem word om Amerika se voorwaardes na te kom nie.
Die verslag bevestig die vier voorwaardes wat tydens ’n onlangse besoek deur Afrikaner-leiers (dr. Corné Mulder van die VF Plus, mnr. Theo de Jager van SAAI, en mnr. Gerhard Papenfus van NEASA) van senior Wit Huis-amptenare ontvang is:
Dit is dat plaasaanvalle as prioriteitsmisdade verklaar moet word, die lied “Kill the Boer” moet sonder uitsondering ondubbelsinnig veroordeel word, grondonteiening mag slegs plaasvind met billike markvergoeding en Amerikaanse ondernemings moet vrygestel word van swart ekonomiese bemagtiging (SEB).
Die verslag kritiseer president Cyril Ramaphosa se ondertekening van die Onteieningswet as ’n “kommerwekkende stap” wat Afrikaners en ander minderhede se grondregte bedreig.
Dit meld ook “geloofwaardige verslae” van menseregteskendings, insluitend arbitrêre moorde, onwettige aanhoudings, en die onderdrukking van rasse-minderhede.
Dit verwys na onopgeloste sake van geweld teen boere in gebiede soos die Vrystaat en KwaZulu-Natal, waar ondersoeke na plaasaanvalle “dikwels onvolledig bly”.
Verder word die ANC en EFF beskuldig van die intimidasie en teistering van joernaliste wat oor korrupsie, partypolitiek en die verslegting van die veiligheidsituasie in Suid-Afrika berig.
Die VSA se optrede plaas Suid-Afrika se uitdagings op die internasionale verhoog, waar die ANC nie kan wegkruip vir sy tekortkominge nie. Tog bly die ANC-leierskap onbuigsaam.
Verlede week het Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, in ’n verklaring namens die nasionale uitvoerende komitee (NUK) gesê: “Ons sal nie afsien van ons ekonomiese of buitelandse beleid nie, ongeag eksterne druk.”
Hierdie hardvogtige houding het reeds gelei tot die verwerping van die beplande nasionale dialoog, wat verdere isolasie van die ANC veroorsaak, beide plaaslik en internasionaal.
Die VF Plus bly verbind tot die bevordering van menseregte en geregtigheid vir alle Suid-Afrikaners.
Die party sal voortgaan om internasionale aandag op hierdie kwessies te vestig en om samewerking met ander organisasies en partye te soek om ’n inklusiewe oplossing vir die land se probleme te vind.


