
Op ʼn sonnige, maar koel Saterdagoggend, 9 Augustus, het ʼn groep VF Plus-vroue in die Liedjietuin by die Voortrekkermonument in Pretoria byeengekom om Vrouedag te vier.

Hierdie betekenisvolle geleentheid, georganiseer deur die VF Plus se Groter Pretoria-streek onder leiding van raadslid Grandi Theunissen, in samewerking met die vrouekomitee, was ’n viering van nie net die nalatenskap van Voortrekkervroue nie, maar ook die krag en bydraes van hedendaagse vroue in die aangesig van moderne uitdagings.

Cecil Deetlefs, die streek se voorsitter, het as gasvrou opgetree. Cecil het ook die onvergeetlike Vrouedag-geleentheid gereël. Sy is veral passievol oor die ondersteuning van bejaardes en het die dames aangemoedig om betrokke te raak by verskeie projekte om aan hul vreugde te verskaf.
Saam met Cecil op die foto is die streek se vrouekomitee: Van links na regs staan Juan-Mari Nel, Carien Nefdt, Barbara Meyer en Durinda-Lee Oliphant.

Die program was propvol en het begin met skriflesing en gebed deur dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting.


Monique Kriek, VF Plus se Gautengse jeugleier en voorsitter van die provinsiale vrouekomitee, het ’n voorlegging oor die jeug en vroue gelewer, terwyl Durinda-Lee Olifant ’n aangrypende gedig, “Eerbewys aan die hande van ’n vrou” deur VF Plus-raadslid Nick Pascoe, voorgedra het, wat die emosionele diepte van vroue se bydraes beklemtoon het.

Die gasspreker, Magda Rorich, het ’n hartroerende getuienis gedeel oor hoe sy op 10 Januarie 2021 ’n helikopterongeluk in die Krokodilrivier naby Brits oorleef het, waarin haar man, Chris, voor haar oë gesterf het. Met ’n rugfraktuur, gebreekte ribbe en bekken, het Magda se geloof haar gedra. ’n Boer wat R20 000 betaal het om haar na die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal te vervoer, is kort daarna aan Covid-19 oorlede.

Dr. Pieter Mulder, ʼn voormalige leier van die VF Plus en ʼn mens met ʼn diep passie vir die land se erfenis, was volgende aan die beurt en het nie net uitgebrei oor die geskiedenis van die Voortrekkermonument nie, maar ook hulde gebring aan die Afrikanervroue wat op 4 Augustus 1915 onder leiding van Drienie Joubert, ook genoem Drienie die Vreeslose, – 84-jarige weduwee van genl. Piet Joubert, na die Uniegebou in Pretoria gemars het om te pleit vir die vrylating van die gevange rebelle.

Dié rebelle is as helde beskou wat teen Britse invloed en die Unie-regering se lojaliteit aan die Britse Ryk geprotesteer het. Hulle het geglo die rebelle se optrede was ’n voortsetting van die Boereoorlog se stryd vir onafhanklikheid.

Die toer deur die Voortrekkermonument self was ʼn besonderse ervaring wat begin het met die uitklim van die 320 trappies na die monument se ingang.

Foto met erkenning aan Pretoria Historia en die Friedel Hansen-versameling
Daar is in Julie 1937 met die bou van die monument begin, maar dit is eers amptelik ingewy op 16 Desember 1949.

Foto met erkenning aan Pretoria Historia
Interessant genoeg is drie vroulike afstammelinge van die oorspronklike Voortrekkerleiers gekies om die monument se hoeksteen op 16 Desember 1938 te lê. Hulle was mev. J.C. Muller (kleindogter van Andries Pretorius), mev. K.F. Ackerman (agter-kleindogter van Andries Hendrik Potgieter) en mev. J.C. Preller (agterkleindogter van Piet Retief).
‘n Aantal voorwerpe is in die hoeksteen toegemessel, naamlik, afskrifte van: Jan van Riebeeck se dagboek, die Piet Retief-Dingaan-traktaat, Die Gelofte en Die Stem (die eertydse nasionale volkslied van Suid-Afrika), asook ‘n Statebybel.
Op die vier hoeke van die vierkantige monument is standbeelde van onderskeidelik Piet Retief, Andries Pretorius, Hendrik Potgieter en die Onbekende Voortrekker.

By die ingang staan ‘n beeld van ‘n Voortrekkervrou wat haar twee kinders beskerm, geskep deur Anton van Wouw. Gerhard Moerdyk, die argitek van die monument, het dit tydens die beplanningsfase onomwonde gestel dat ʼn spesiale ereplek aan die vrou gegee moet word om hulde te bring aan haar dapperheid en deursettingsvermoë.

Dr. Mulder, met sy kenmerkende warmte en kennis, het die groep deur die monument se sale gelei, waar elke hoek ’n storie vertel.
Die toer het die groep na die boonste vlakke van die monument geneem, waar die sonlig deur die koepel se venster val en ’n enkele straal elke 16 Desember op die senotaaf skyn.

Die woord “senotaaf” beteken ʼn “graf sonder beendere”. Dit is dus ‘n leë graf – die simboliese rusplek van Piet Retief en al die ander Voortrekkers wat tydens die Groot Trek gesterf het.
Die senotaaf is van rooi graniet uit die omgewing van Parys in die Vrystaat vervaardig. Dit neem die vorm aan van waterrimpels wat wyer en wyer na buite uitkring, met die senotaaf as middelpunt – simbolies van ʼn trek na vryheid wat op klein skaal begin het, maar uiteindelik ‘n magtige golfbeweging in die geskiedenis geword het, wat vandag nog sy golfslag laat voel.
Een keer per jaar, op 16 Desember, skyn ‘n sonstraal deur die opening in die boonste koepel van die Monument op die middel van die senotaaf.
Dit verlig die woorde “Ons vir jou, Suid-Afrika.” Die argitek, Gerard Moerdijk, het dit spesifiek só beplan, omdat die sonstraal God se seën op die lewe en werk van die Voortrekkers versinnebeeld.

Daarna het die sewe-en-twintig friespanele in die Heldesaal aan die beurt gekom. Elke paneel beeld ʼn stukkie geskiedenis van die Groot Trek uit, maar vorm ʼn unieke eenheid.
Die marmerfries beeld ook die belangrike rol van die vrou uit tydens die Groot Trek.

Foto met erkenning aan Elana Barker en Weet
Op paneel drie word die trek van Louis Tregardt uitgebeeld. Een van die vroue in sy trek was Antjie Scheepers wie se man vroeg op die trekpad aan malaria oorlede is, later ook drie van haar seuns en ʼn dogtertjie. Sy en vyf van haar kinders het wel die tog na Mosambiek oorleef.
Sy moes as weduwee alleen die mas opkom, maar nêrens in Tregardt se dagboek meld hy dat sy ooit moedeloos was nie, anders as ʼn ander vrou, Anna Botha, wat niks anders gedoen het as om te huil nie.

Foto met erkenning aan Elana Barker en Weet
Op paneel vyf word die dapperheid van die Voortrekkervroue uitgebeeld tydens die Slag van Vegkop waar Potgieter se laer deur sowat 6 000 Ndebele-krygers aangeval is. In die hitte van die geveg het die mans se ammunisie opgeraak en moes die vrouens ingryp en met assegaaie wat om hulle neerreën moes hulle lood smelt, dit met lepels in koeëlvorms giet en in water laat afkoel.
Hulle het die mans gehelp gewere laai en het self ook geskiet.

Foto met erkenning aan Elana Barker en Weet
Paneel veertien beeld die tragiese gebeure uit toe die Zoeloes die Trekkers by Bloukrans op 17 Februarie 1883 aangeval het. Bykans 500 mense het gesterf en Johanna van der Merwe was een van die gewondes.
Sy was 12 en het die aanval oorleef, ten spyte van 23 assegaaisteke. Sy het die gebruik van haar regterbeen deels verloor en moes die res van haar lewe met ʼn kruk oor die weg kom.

Foto met erkenning aan Elana Barker en Weet
Op paneel nege word Susanna Smit uitgebeeld wat met die Engelse se anneksasie van Natal as mondstuk gekies is van ʼn afvaardiging van sowat 400 ontevrede vroue om teen die anneksasie te protesteer by advokaat Cloete, wat deur die Britse regering gestuur is om die land oor te neem. Dit was by hierdie geleentheid dat sy vir haar ’n blywende plek in die Afrikanergeskiedenis verower het.
Daar het Susanna hom op welsprekende wyse ingelig oor die redes waarom hulle die Kaapkolonie verlaat het en die lyding en onderdrukking wat hulle moes verduur om die land veilig te maak; en hom daarby duidelik te verstaan gegee dat dit vir hulle onmoontlik was om genoeë met die Britse anneksasieplanne te neem.
Toe Cloete naderhand ongeduldig word en weier om verder te luister, het sy op duideliker wyse as wat ooit tevore gedoen is, die vasberadenheid van haar volk om hulle nooit aan die Britse bewind te onderwerp nie, tot uitdrukking gebring. Met al die hartstog van haar siel het sy verklaar: “Meneer Cloete, al die mooie beloftes wat hier gedaan is, smaak soos aloem in die mond. Ons het goed en bloed gegee om onder die gehate Britse vlag uit te kom, en al moet ons ook kaalvoet en blootshoof oor Drakensberg loop, sal ons onder die vlag nie berus nie”.

ʼn Absolute hoogtepunt was die tapisserie wat die Groot Trek en die rol van die vrou uitbeeld.
Die kunstenaar W.H. Coetzee het die 15 panele waaruit die tapisserie bestaan ontwerp, waarna nege vroue van die ATKV agt jaar lank geborduur het om dit te voltooi. Die tapisserie bestaan uit nagenoeg 3,3 miljoen borduursteke.
Die goue draad wat deur die hele dag geloop het is dat die Voortrekkervroue, wat tydens die Groot Trek die ongetemde wildernis van Suid-Afrika deurkruis het, meer is as net figure in geskiedenisboeke. Hulle was moeders, leiers en draers van hoop wat met moed, veerkrag en geloof uitdagings soos siektes, oorlog en onsekerheid aangedurf het.
Vir moderne vroue, wat hul eie stryd voer in ’n wêreld van ekonomiese druk, maatskaplike ongelykheid en politieke onsekerheid, is hul stories ’n kragtige inspirasie en dat jy met krag en geloof ook vandag se uitdagings te bowe kan kom.
Eerbewys aan die hande van ‘n vrou
Dis hande wat deeg knie en wasgoed verdra,
wat tydig die kleigoed se monsters verja.
Dis hande wat leef met ’n hemelse roep,
wat in stilte dien en deur liefde geroep.
Soos Ester se hande, met vasberade moed,
wat gereed was om vir haar volk voor troon in te boed.
Sy het nie geskree nie, maar God kon haar hoor,
deur hande geheilig in geloof gestrek na bo.
Dis Debora se hande — regter en profeet,
wat oordeel en waarheid met wysheid beklee.
Sy lei sonder trots, met ’n hart sonder vrees,
haar hande bring vrede — haar stem is ’n fees.
Dan Maria — jong meisie met hande ontvanklik,
wat Christus omvou het in liefde so eind’lik.
Haar jonge hande wat God se belofte in eerbied afwag,
Wat die kruisigingstrane tot opstanding betrag.
En Rut met haar hande, getrou in die veld,
wat koring kom raap het in hoop sonder geld.
Sy werk sonder voorgee, sy wag sonder eis,
haar hande bring lewe — sag soos ’n reis.
O, hande van vroue wat God stil gebruik,
wat in daaglikse dade Sy roem diep uitruik.
Hulle lig kinders op, hulle dra huise saam,
hulle skryf met hul hande aan God se verhaal.
Hulle dra nie ’n septer, of sit op ’n troon,
maar hul hande is heilig, hul roeping is loon.
Waar hulle ook gaan, of sit of staan,
bly hul hande ’n seën — deur God self bepaal.
So eer ons vandag, met ontsag en met rus,
die hande wat stil, met geloof, lig en kus.
Hulle is nie net vroue — maar beelddraers van lig,
hul aanraking dra iets van hemel se gesig.
Nick Pascoe



