President Cyril Ramaphosa moet nou die eerbare stap neem en aan Suid-Afrikaners bekend maak wat sy rede was waarom hy die Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV) onderteken het kort voor verlede jaar se verkiesing.
Die Noord-Gautengse-hooggeregshof het op 6 Mei vanjaar in die saak van die Raad van Gesondheidsfinansiers en die SA Forum vir Privaat Praktisyns beslis dat die president die rekord van sy besluit om die wet te bekragtig en te onderteken, moet verskaf.
Volgens hierdie uitspraak moet die president aandui of die wetlike vereistes nagekom is.
Die president het nou aansoek om verlof tot appèl tot die Grondwethof gerig.
Die VF Plus is van mening dat Ramaphosa die NGV kort voor die verkiesing onderteken het net om stemme te werf om die ANC van algehele ondergang te red. Die feit dat die president nou appèl wil aanteken teen die beslissing van die hooggeregshof is ‘n duidelike bewys dat hy nie in belang van die land en Suid-Afrikaners se gesondheid en welstand opgetree het nie.
Die vraag moet gevra word wat steek die president weg?
Intussen het die minister van gesondheid sedert Oktober 2024 R9.6 miljoen bestee om die NGV desperaat in die howe te verdedig met ‘n buitensporige regspan wat bestaan uit vyf senior en sewe junior advokate. Dit grens aan algehele absurditeit.
Daar is tans sewe sake teen die NGV in die land se howe en nog meer gaan volg. Dit terwyl daar mediese regseise van sowat R75 miljard teen die departement in die howe is en daar R3 miljoen per maand aan NGV-advertensies bestee word. Intussen staar ‘n begrotingstekort van R7,5 miljard die departement in die gesig weens die onttrekking van Amerika se Pepfar- en USAid-fondse.
Dit is onduidelik wat die president se regskostes met betrekking tot die NGV gaan beloop.
Hierdie geld is broodnodig om die vervalle toestand van die land se openbare gesondheidsdiens om te keer en te herbou. Nou word dit deur ‘n hardkoppige president en minister van gesondheid vermors.
Suid-Afrika het dringend dokters, verpleegsters, medisyne, mediese toerusting, hospitale en klinieke nodig dit terwyl fondse in ‘n bodemlose NGV gestort word.
Die tyd het aangebreek dat die president eerlik en openlik moet wees met Suid-Afrikaners, die NGV in alle vorme staak en terugkeer na die tekenbord en met die hulp van mediese kundiges in die openbare en privaatsektor ‘n stelsel ontwerp wat vir almal in die land voordelig sal wees.


