ʼn Steekproef van die VF Plus in die Vrystaat het gewys dat tot 38 dorpe in dié provinsie tans geen of beperkte toegang tot water het.
In Bloemfontein is van die noordelike dele in die stad al vir meer as twee weke sonder water weens infrastruktuur wat herstel moet word by Maselspoort.
Die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit het vandag aangedui dat inwoners van Welkom tot vyf dae sonder water kan wees weens onbeplande herstelwerk aan die De Erf-pyplyn. Sekere gedeeltes van Welkom is al vir maande sonder water.
In Parys funksioneer die waterwerke nie optimaal nie en is sommige inwoners al vir 40 dae sonder water.
Dorpe soos Wepener, Ventersburg, Brandfort, Theunissen, Winburg en Edenville is al vir meer as twee weke sonder water.
Die watertekorte in die provinsie grens aan ʼn humanitêre krisis met talle gemeenskappe wie se grondwetlike reg tot toegang tot water misken word.
Alhoewel die Vrystaat ʼn water-arm provinsie is, is daar geen rede waarom daar nie water in inwoners se krane is nie.
Water is beskikbaar, maar dit gaan grootliks verlore weens gebrekkige of geen infrastruktuurinstandhouding, swak beplanning en wanbestuur.
Volgens die ouditeur-generaal (OG) gaan meer as 50% van die water wat munisipaliteite aankoop, verlore weens waterlekkasies en onwettige aansluitings.
Die Vrystaat kan nie nog vyf jaar onder die ANC bekostig nie.
Die enigste manier om die Vrystaat se water- en ander probleme op te los, is om te registreer en te stem om van die ANC ontslae te raak en te vervang met ʼn bevoegde en verantwoordbare koalisieregering waarvan die VF Plus deel is.
Saam kan ons die Vrystaat herstel en bou.


