Swak of geen onderhoud aan meganiese waterpompe veroorsaak chaos in Hazyview, Barberton en Kanyamazane in die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapsehoop, Skukuza, Witrivier, Kanyamazane).
Die inwoners van Hazyview het al vir etlike dae geen water nie. Dit is die derde krisis in twee jaar wat vermy kon word indien raadsbesluite oor die beplanning en instandhouding van infrastruktuur uitgevoer is.
Twee 290kw-waterpompe is aan die Sabie-rivierpompstasie toegeken. Dit laat een toe om water na die inwoners van Hazyview te pomp en die ander pomp is op bystand indien hierdie eerste pomp buite werking is.
Drie jaar gelede is die sekondêre pomp beskadig en nooit vervang nie. In 2022 was daar 'n waterkrisis en die sekondêre pomp is verwyder maar nooit herstel nie. Hazyview-inwoners was toe vir bykans nege dae sonder water.
Nou het die primêre pomp weer gebreek weens ‘n gebrek aan onderhoud en daar is geen ondersteuningspomp beskikbaar om na oor te skakel nie.
Die pompstasies in Barberton en Kanyamazane het 'n soortgelyke lot gely weens swak instandhouding.
'n Raadsbesluit het spesifiek die beplanning en instandhouding van infrastruktuur om hierdie rede geïdentifiseer en die resolusie op 29 Junie 2020 ter tafel gelê.
Dit sou hierdie drie dorpe baie ongerief gespaar het. Die munisipaliteit sou ook duisende rande bespaar het.
Die VF Plus gaan dus vra dat die munisipale bestuurder, Wiseman Khumalo, van sy pos onthef word aangesien hy direk verantwoordelik was vir die uitvoering van die raad se besluite.
Daar is genoeg rede om hierdie optrede aan te vra. Mbombela het tot op hede 496 raadsbesluite wat nog nie uitgevoer is nie.
Mbombela se inwoners verdien beter as die onbevoegde ANC wat tans in beheer van die munisipaliteit is.


