Die uurglas is besig om vinnig leeg te loop vir mense wat nog aansoek wil doen om ‘n spesiale stem in die komende munisipale verkiesing (3 Augustus 2016) uit te bring.
Die sluitingsdatum vir hierdie aansoeke sluit om 17:00 op 8 Julie wat beteken u het nog net tyd tot aanstaande Vrydag.
Die Vryheidsfront Plus moedig almal wat hiervoor kwalifiseer om as ‘n saak van dringendheid aansoek te doen aangesien elke stem in die verkiesing van die uiterste belang gaan wees om die ANC te stuit en om die VF Plus die nodige stukrag te gee om u stem te laat hoor in plaaslike regerings.
Hierdie is ‘n spesiale geleentheid vir onder andere bejaarde-, gestremde- en bedlêende mense, asook swanger vroue wat nie tydens stemdag in 'n tou kan staan by die stempunt nie, om eerder by hul wonings besoek te word om hulle sodoende die geleentheid te gee om te stem.
Dié diens word op 1 en 2 Augustus 2016 ( Maandag en Dinsdag) deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gelewer.
'n Ander rede vir 'n spesiale stem is om mense te help wat om ‘n geldige rede nie tydens stemdag by sy/haar stempunt sal kan uitkom nie.
Dit geld onder meer vir persone wat weens werkomstandighede nie sal kan stem nie, of wat uitstedig gaan wees. So 'n persoon sal op 1 of 2 Augustus dan by sy/haar stempunt kan gaan stem.
Daar moet wel in beide gevalle aansoek gedoen word hiervoor.
Die opsies om aansoek te doen om ‘n spesiale stem is:
1.) 'n MEC35-vorm kan ingevul en deur die betrokke kieser onderteken word en na u naaste OVK-kantoor geneem word.
2.) 'n Aanlyn-aansoek kan voltooi word by https://www.elections.org.za/content/pages/forvoters/specialvote-application.aspx
3.) 'n Sms (32249) met u ID-nr kan gestuur word (slegs van toepassing as die kieser uitstedig gaan wees en die dag vroeër by die stempunt wil gaan stem).
Die VF Plus verkies opsie 2 aangesien dit waarskynlik die veiligste opsie is wat die minste foute toelaat.
Die OVK sal die persoon wat aansoek doen om 'n spesiale stem in kennis stel of sy/haar aansoek suksesvol was of nie, en indien onsuksesvol, wat die rede daarvoor is.
Lees gerus verder oor spesiale stemme op die OVK se webtuiste. Die skakel na die webtuiste van die OVK is as volg:
http://www.elections.org.za/content/For-Voters/Special-votes/
Indien daar enige verdere navrae is, kan u gerus die VF Plus skakel op 0861 700 700.


