Die wateronderbreking wat sedert Sondagoggend groot gedeeltes van Roodepoort sonder drinkwater gelaat het, kan toegeskryf word aan die nalatigheid van ‘n onafhanklike boukontrakteur wat ‘n hoofwatertoevoerpyp op die hoek van Ellis- en Hendrik Potgieter raak gekap het, sê Franco de Lange, VF Plus-raadslid in die Johannesburgse metro, wat deel is van die koalisieregering.
“Behalwe dat mense vir meer as 48 uur sonder water was, het tien duisende kiloliter water verlore gegaan. ‘n Groot bron van kommer is dat selfs noodsaaklike dienste soos die Flora-kliniek sonder water was.
“Dié verlies vra die vraag of die boukontrakteurs die moeite gedoen het om opgegradeerde waternetwerk-planne na te gaan en seker te maak dat die soort van ongeluk nie plaasvind en belastingbetalers sonder basiese dienste laat nie.”
Rdl. de Lange wat die bouperseel besoek het, sê die hoofwatertoevoerpyp lê sowat ses meter diep en die VF Plus veroordeel dié onbehoorlike optrede van die kontrakteur wat ook die verbruiker briesend laat.
“Die VF Plus stel voor dat daar hewige boetes van sulke kontrakteurs gehef moet word wat die stad se water-, riool- en elektrisiteitnetwerke skade berokken.”
Rdl. de Lange meen dat, volgens inligting, die watertoevoer en die waterdruk in al die betrokke gebiede teen Woensdagoggend volkome herstel behoort te wees.
Tel: 082 358 3882