Rustenburg is net die oog van die storm van stakings wat dreig om totaal handuit te ruk en Suid-Afrika se ekonomie, wat volgens voorste ekonome reeds in ‘n resessie is, oor die afgrond te dryf, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.
Adv. Alberts sê alles dui daarop, soos die jongste stakingsdreigemente van Numsa, dat die uitgerekte Rustenburg-staking gaan oorvloei na ander sektore. Numsa het reeds te kenne gegee dat hy aanstaande maand met stakings in die vervaardigings- en konstruksiebedryf en by Eskom gaan begin, terwyl Amco moontlik aanstaande week in die goudmynbedryf gaan staak.
Volgens adv. Alberts is die moontlike stakings by goudmyne veral kommerwekkend aangesien die winsmarge by goudmyne laer is as in die platinumbedryf en dit die ekonomie sterk negatief sal beïnvloed.
“Die VF Plus sê daar is hoofsaaklik twee redes vir die stakingsprobleme wat oënskynlik sonder einde voortduur. Die eerste daarvan is dat die ANC die laaste 20 jaar in beheer van die land se ekonomie is en dit met enkele uitsonderings totaal wanbestuur het.
“Aggressiewe kaderontplooiingsaksies in die staat en private sektore deur middel van regstellende aksie (RA) en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) het die ekonomie laat stagneer en het bloot nuwe verdelingslyne tussen ryk en arm geskep.
“Een van die land se ekonomiese sterkpunte, sy minerale rykdom, is deur agtereenvolgende ANC-ministers so wanbestuur dat dié rykdom oor die laaste 20 jaar geen ekonomiese dividend kon wys nie,” sê adv. Alberts.
Hy sê die tweede rede vir die ekonomiese kreeftegang is die groeiende tendens van die ANC om na links van die ekonomiese politieke spektrum te beweeg met die fokus op herverdeling in plaas van groei. Hierdie beleidsrigtings word ernstig bejeën deur die land se Eerstewêreld-handelsvennote en word ‘n remblok op buitelandse investering.
“Investering gaan al hoe minder word in Suid-Afrika. Baie van ons buitelandse handelsvennote se regerings is nie sosialisties georiënteerd nie en gaan in die toekoms al hoe minder so wees indien ‘n mens let op verkiesingstendense in Europa.
“Die groeiende welvaartgaping in Suid-Afrika het dus die simptomatiese effek dat vakbonde al hoe meer aggressief raak om die gaping tussen gewone werkers en die bestuur se inkomste te verklein, maar dit word gedoen ten koste van werkloses en Suid-Afrika se ekonomie in die geheel.
“Dit lyk asof die huidige arbeidsbedeling nie robuus genoeg is om te handel met hierdie aggressiewe en langdurige stakingstendense nie. Die bedeling maak nie voorsiening daarvoor om stakings voortydig te beëindig nie.
“Die strydende partye moet in ‘n stadium onder dwang tot ‘n vergelyk gebring kan word om te verhinder dat al hoe meer stede soos Rustenburg oornag in armoede verval,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403