fbpx
Vryheidsfront Plus

Vlakke van misdadigheid onder polisielede in Noordwes skokkend

Die groot aantal polisielede wat by misdaad in Noordwes betrek word, is skokkend.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het in antwoord op ‘n parlementêre vraag van die VF Plus bekend gemaak dat 104 polisielede in die provinsie sedert 2020 by misdaadvoorvalle betrek is.

Die erns van die misdadigheid is kommerwekkend. Dit sluit in poging tot moord, sakeroof, korrupsie, verkragting, ontvoering en diefstal.

Die minister het bevestig dat vyf Noordwes-polisielede oor die afgelope twee jaar in hegtenis geneem is. Een is reeds gevonnis.

Geen melding is in die antwoord gemaak oor vordering met ondersoeke teen die ander 99 lede nie. Die VF Plus sal in ‘n opvolgvraag aan die minister aandring op ‘n volledige uiteensetting van die status van hierdie ondersoeke.

Opmerklik ook is die groot aantal senior polisielede en speurders wat by hierdie misdade betrek word.

Polisie-offisiere met range soos kolonel, eenheidsbevelvoerders en langdienende lede van die polisie, vorm deel van die statistiek.

Dit is juis diegene waarna opgekyk word in die gemeenskap en wat daarom ‘n voorbeeld behoort te stel.

Hierdie stand van sake skep ‘n donker prentjie in ‘n provinsie waar die gemeenskap toenemend vertroue in die polisie verloor. Voorvalle waar gemeenskappe die reg in eie hande neem kom ook al hoe meer voor.

Hierdie situasie dui ook op die lae morele vlakke onder polisiebeamptes wat oor die afgelope jare ontstaan het, onder meer weens onstabiliteit in die nasionale polisiebestuur.

Die meeste toegewyde polisiebeamptes ly ook nou onder die gevolge van swak bestuur en die dade van misdadige elemente in die polisie.

Die herstel van die moreel en dissipline in die polisie behoort minister Cele se hoogste prioriteit te geniet.

Die hoë vlakke van misdaad in die land kan nie bestry word met ‘n polisiediens wat van binne af uitgekalwe word deur misdadigers in hul midde nie.

Dit is ‘n skande dat ‘n eens gerespekteerde en doeltreffende polisiediens só verval het onder die ANC-regering.

Die inwoners van Noordwes, en so ook die hele land, verdien beter as die ANC.fa

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.