Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus vra amptelike lys van 139 plase in parlement

Die VF Plus het reeds verlede week ‘n amptelike parlementêre vraag gevra aan die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Maite Nkoana-Mashabane, oor die lys van 139 plase wat die regering beoog om te onteien as toetssaak in terme van Artikel 25 van die Grondwet oor onteiening sonder vergoeding.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê hy doen ‘n beroep op die minister om die lys so gou moontlik bekend te maak sodat daar sekerheid kan kom by grondeienaars wat deur die onteiening geraak sal word.

Die gelekte lys wat AfriForum onlangs bekend gemaak het, skep tans groot angs, verwarring en ontsteltenis by eienaars wie se grond op die lys voorkom.

Dr. Groenewald sê dit is daarom van die uiterste belang dat die amptelike lys bekend gemaak word sodat boere sekerheid kan kry aangesien die situasie hul produksie-planne kan beïnvloed. Daar kan nie van boere verwag word om groot insetkoste aan te gaan indien daar ‘n moontlikheid bestaan dat hulle alles kan verloor nie.

Dit is lynreg in botsing met pres. Cyril Ramaphosa se uitsprake dat onteiening sonder vergoeding voedselsekerheid nie in die gedrang sal bring nie, en die amptelike lys moet in belang van voedselsekerheid dadelik bekend gemaak word.

Dr. Groenewald vra dat daar gewag moet word vir die amptelike lys van die departement en maan dat mense nie onnodig paniekerig en ontsteld raak nie.

Luidens berigte het amptenare van die departement gesê plase wat geraak sal word, is slegs waar daar reeds ‘n aanbod gemaak is deur die regering, maar waar grondeienaars nie die aanbod aanvaar het nie. Grondeienaars sal weet of daar reeds so ‘n aanbod aan hulle gemaak was .

Dit is intussen net billik en regverdig teenoor grondeienaars dat hulle sekerheid kry sodat hulle gepaste stappe kan neem indien hul plase wel op die amptelike lys is. Die VF Plus sal druk uitoefen op die departement om die amptelike lys so spoedig moontlik bekend te stel.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.