Die VF Plus verwelkom die besluit van die minister van polisie, Bheki Cele, om ‘n amnestieperiode van ses maande van die parlement aan te vra waartydens onwettige vuurwapens ingehandig kan word by die polisie.
Die verlede het aangetoon dat geen vuurwapen wat ingehandig is, vantevore in ‘n misdaad gebruik is nie. Dit dien as bewys dat ‘n amnestie misdadigers nie aanspoor om hul wapens in te handig nie.
Hierdie amnestieperiode bied nogtans ‘n geleentheid aan vuurwapeneienaars, wat nagelaat het om betyds aansoek te doen om die hernuwing van hul vuurwapenlisensies, om van nuuts af aansoek te doen vir ‘n lisensie vir dieselfde vuurwapen.
Min. Cele se voorstel is dat die amnestie-periode van 1 September vanjaar tot aan die einde van Februarie 2019 moet geld.
Die proses wat nou moet volg, is dat die besluit eers op 16 Augustus deur die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie goedgekeur moet word, en daarna deur die nasionale vergadering.
Dié amnestieperiode is ook ‘n gulde geleentheid vir eienaars van vuurwapens, waarvan die lisensies reeds veral het, om die wapens in te handig en daarna ook deur middel van ‘n nuwe lisensie-aansoek eienaarskap van die vuurwapen te kan kry.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, doen ‘n beroep op vuurwapen-eienaars wat nagelaat het om betyds aansoek te doen vir die hernuwing van hul lisensies, om hierdie geleentheid te gebruik om wel aansoek te doen om sodoende nie hul wapens te verloor nie.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216