Die VF Plus veroordeel die verlammende impak wat ANC-binnegevegte in die wetgewer van Noordwes op dienslewering het en gaan ‘n dringende vergadering met die pas verkose huisvoorsitter verantwoordelik vir komitees in die wetgewer aanvra om dit te bespreek.
Die party sal daarop aandring dat professionele wisselwerking tussen alle strukture in die wetgewer as ‘n prioriteit herstel word. Die voortslepende binnegevegte in ANC-geledere duur reeds ‘n geruime tyd en kan nie so voortgaan nie.
In ‘n vier uur lange vergadering van die wetgewer vandag het die onderskeie ANC-faksies weer hewig gebots in die proses om ‘n nuwe huisvoorsitter verantwoordelik vir komitees in die wetgewer te verkies.
Die kandidaat wat deur die DA voorgestel is, Priscilla Williams van die ANC, is toe uiteindelik verkies in die posisie. Die VF Plus het nie een van die ANC-kandidate ondersteun nie en het buite stemming gebly.
Lede van die wetgewer se prioriteit behoort dienslewering te wees. Die VF Plus sal voortgaan om op elke wyse moontlik druk toe te pas om te verseker dat die wetgewer optimaal funksioneer tot voordeel van al Noordwes se inwoners.