Die VF Plus is tans in gesprekke met verskeie politieke partye oor die moontlike vorming van koalisies of samewerkingsooreenkomste in rade waar geen party ‘n meerderheid het nie. In verskeie van hierdie rade kan die VF Plus ‘n rol speel by die vorming van koalisies.
Die VF Plus is bewus van talle gerugte wat die rondte doen oor koalisies en ooreenkomste wat reeds op plaaslike vlak gesluit is. Hierdie gerugte is vals. Tot op datum is geen amptelike ooreenkomste nog met enige party gesluit nie. Ooreenkomste sal slegs deur die VF Plus se hoogste beleidmakende liggame gesluit word en nie deur lede op plaaslike vlak nie. Op hierdie wyse kan die VF Plus se landwye posisie beter beoordeel word en die beste beding word.
Omdat meeste rade voor die einde van volgende week hulle ampsdraers moet aanwys, kan hierdie samesprekings nie vir altyd aanhou nie. Wat die onderhandelinge kompliseer is die baie verskillende kombinasies en partye wat betrokke is. Waar dit in gevalle soos Hessequa in die Wes-Kaap eenvoudig is met die VF Plus as koningmaker tussen die ANC en die DA, is dit aansienlik ingewikkelder in ander munisipaliteite waar tot vyf partye in verskillende kombinasies betrokke is. Elke kombinasie kan tot ‘n ander uitkoms lei.
Waar verskeie kleiner partye in die pas afgelope verkiesing amper uitgewis is, is die VF Plus tans die vyfde sterkste uit die meer as 200 partye wat aan die plaaslike verkiesing deelgeneem het. Die party het ook met amper 30% gegroei sedert die onlangse 2014 verkiesing. Daarom is die VF Plus tans ‘n rolspeler in sommige munisipaliteite.
In al nege provinsies het die VF Plus se stemtotaal vermeerder. In sommige provinsies het dit verdubbel, in die Wes-Kaap vervierdubbel en in Noord-Kaap selfs vyfvoudig gegroei. Die gevolg is dat die VF Plus vir die eerste keer raadslede verkies gekry het op plekke waar die party in die vorige termyn geen teenwoordigheid gehad het nie.
Die VF Plus het nou byvoorbeeld vir die eerste keer raadslede in Kimberley, Upington, Koster, Ottosdal, Wolmaransstad, Schweizer-Reneke, Zeerust, Nelspruit, Worcester, Paarl, Mosselbaai, Hessequa, ens.
Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670