Die Tshwane-metroraad het onlangs hul 2016/17-jaarverslag bekend gestel. Die jaarverslag merk die eerste jaar van ‘n koalisieregering, na die ANC die stad vir etlike jare regeer het.
Awie Erasmus, VF Plus-raadslid en voorsitter van die openbare rekeningekomitee in die Tshwane-metroraad, sê die koalisie het ‘n enorme taak gehad om die stad se finansies om te draai na die ANC die stad met ‘n R2 miljard tekort oorgegee het.
Die koalisie kon daarin slaag om ‘n surplus van R704 miljoen gedurende die finansiële jaar te bewerk.
Die jaarsverslag het ‘n ongekwalifiseerde opinie van die Ouditeur-Generaal ingesluit, die finansiële resultate vir die tydperk, asook verskeie prestasie-aanwysers.
Die volgende punte rondom die jaarverslag is ook van belang:
• Ongemagtigde uitgawes is verminder met R 1 miljard.
• Onreëlmatige uitgawes is verminder met R112 miljoen.
• Kontant voorhande het met R900 miljoen toegeneem.
“Alhoewel daar goeie vordering gemaak is, is daar steeds talle punte van kommer, wat dringende aandag verlang.
“Die VF Plus is bekommerd oor die debiteure boek wat steeds aanhou groei teen ‘n skrikwekkende koers en wat tans staan op R10 miljard.
“Die VF Plus gaan ook die openbare rekeningekomitee vra om kontroles in plek stel om te verseker dat die stad op ‘n meer effektiewe wyse bedryf word,” sê Erasmus.
Kontaknommer: 072 815 4053