Tydens ‘n warm debat vandag in die Gautengse Wetgewer wat gehandel het oor die premier se Openingsrede van die afgelope week, het die VF Plus die premier gekap oor die voorval by die Universiteit van Pretoria, misdaad in die provinsie en die omstrede e-tolstelsel.
Die VF Plus se LPW in die wetgewer, mnr. Philip van Staden, het tydens die debat gesê dat die VF Plus reeds in 2015 die premier gewaarsku het dat ‘n noodtoestand in Gauteng afgekondig moet word omrede ‘n staat van oorlog in Gauteng heers. Hy sê die afgelope tyd is kampusse in geweld gedompel waar swart-op-wit en swart-op-swart geweld uitgebreek het. Van Staden het gesê dat ‘n klein minderheid in die land besig is om Suid-Afrika revolusionêr omver te werp net omdat daar nie altyd aan hul eise gehoor gegee word nie.
“Wetsgehoorsame burgers van hierdie land is besig om op te staan teen hierdie soort van optrede en is besig om dit wat reg is te verdedig soos wat ons die afgelope week by Tuks gesien het. Ons beleef dit in ons raadsale met elke sitting, waar die proses van regering omvergewerp en in chaos gedompel word. Moenie verbaas wees as hierdie wetsgehoorsame burgers wet in eie hande gaan neem om hierdie revolusionêre magte te stop nie. Wetsgehoorsame burgers is siek en sat vir mense wat stede, dorpe, skole, universiteite en raadsale probeer omverwerp vir hulle eie gewin. Ons het nie meer tyd daarvoor in Suid-Afrika nie.”
Oor misdaad in Gauteng het Van Staden gesê dat dit besig is om hand uit te ruk in die provinsie en dat daar daagliks burgerlikes, polisiebeamptes en metropolisiebeamptes geskiet en vermoor word.
“Geen wonder dat metropolisiebeamptes nêrens sigbaar is om eenvoudige werk soos verkeersregulering toe te pas nie. Hierdie mense is bang om hul pligte uit te voer in die vrees dat hul dalk geskiet of vermoor kan word. Herstel wet en orde in Gauteng!”
Die VF Plus het ook die premier getakel oor die omstrede e-tolstelsel en gesê dat die premier verkeerd is as hy sê dat mense nie e-tol betaal nie want hul kan dit nie bekostig nie. Van Staden het gesê dat in ‘n verslag wat deur OUTA die afgelope week uitgereik is dit bewys het dat mense nie e-tol betaal nie weens beginselbesware.
“Die VF Plus het al verskeie kere gesê dat hierdie stelsel onwettig is en net help om die vet katte van die ANC nog vetter te voer. ‘n Bestaande pad kan nie omskep word in ‘n tolpad net omdat daar ‘n nuwe lagie teer oorgegooi is nie. Ek stel dit weer aan u: Ons sal nie e-tol betaal nie!”
Die VF Plus het ook tydens die debat sy kommer uitgespreek oor die 200 000 mense wat jaarliks die provinsie binnestroom en dat Gauteng en Suid-Afrika nie langer mense van ander Afrika-state met ope arms kan verwelkom nie. Van Staden het gesê dat die grense oop is, mense instroom, misdaad styg want almal wil ‘n huis, werk, geld en kos hê. Hy het gesê dat die behuising- en werkprobleem nooit in Gauteng opgelos sal word alvorens die grense van hierdie land weer gesluit word nie.
Van Staden het sy toespraak afgesluit deur te sê dat die toespraak wat die premier die afgelope week gelewer het, niks anders is as net ‘n heuning-om-die-mond smeerdery is nie. “Ons almal weet dat dit hierdie ‘n munisipale verkiesingsjaar is en dat die regte dinge nou gesê gaan word om stemme vir die ANC te lok. Ongelukkig is die kiesers daar buite besig om deur die ANC te sien en is moeg vir die meer as twintigjaar se valse beloftes. Ons sien uit na die einde van die ANC-regering.”