Die VF Plus-jeug doen ‘n dringende beroep op voornemende studente om uiters versigtig te wees met die keuse van verblyf in die nuwe akademiese jaar. Duisende studente wend hul tot die Jakarandastad en almal is opsoek na goedkoop verblyf in veral die Hatfield-omgewing. Wees egter gewaarsku teen swendelaars wat daarop uit is om studente om die bos te lei, sê Jean Kriek, VF Plus-jeugleier in Gauteng.
“Studente, veral die wat nie oorspronklik van Pretoria afkomstig is nie, word gewaarsku om nie vir hul verblyf vooruit te betaal voordat hulle nie heeltemal seker gemaak het dat die plek wel bestaan en dat hulle deel met die wettige eienaar daarvan nie. Wees uiters versigtig vir internet advertensies/transaksies en self advertensies in koerante. Maak eerder gebruik van geakkrediteerde agentskappe wat verhuring op ‘n professionele wyse hanteer of maak gebruik van die tersiêre instellings se geakkrediteerde huuragentskappe,” sê Kriek.
Volgens die Universiteit van Pretoria het hulle slegs 8 000 beddens beskikbaar en is reeds vol bespreek. Hulle beskik egter oor ‘n waglys en kan studente deur die loop van die jaar akkommodeer indien daar ‘n opening beskikbaar sou wees.
Jean Kriek
076 015 2218