Die VF Plus gaan ‘n klag indien by die Openbare Beskermer (OB) teen die Gautengse departement van onderwys vir die besteding van R431 miljoen vir die ontsmet van skole in die provinsie. Die geld is in net drie maande, Junie tot Augustus 2020, bestee.
Die VF Plus het in November verlede jaar reeds sy kommer uitgespreek na dit aan die lig gekom het dat die Gautengse onderwysdepartement in September 2020 R98 miljoen bestee het om skole te ontsmet.
Die bedrag van R98 miljoen is uitbetaal aan 28 verskillende diensverskaffers waarvan talle lyk of dit rakmaatskappy-name het en dus waarskynlik onlangs gestig is. Talle van die maatskappye wat tenders gewen het, se name bevat die woorde "Trading" of "Consulting" wat aanduidend is van die standaardname wat in rakmaatskappye voorkom. Talle maatskappye se name kom vreemd voor vir die tipe diens wat gelewer moet word om geboue te dekontamineer.
Volgens die minister van onderwys, Angie Motshekga, is diepreiniging by skole nie noodsaaklik nie en hoef slegs oppervlaktes behoorlik skoongemaak word. Bidvest het ook die skoonmaakproses by baie skole geborg en sekere skole het uit hul eie sak daarvoor betaal.
Die VF Plus gaan die OB vra om vas te stel of diepreiniging by skole werklik plaasgevind het, of dit werklik nodig was en of die aksies onreëlmatig was.
Die OB moet ook vasstel of die maatskappye aan wie die tenders toegeken is in staat was om die dienste te lewer, wie in beheer van die maatskappy is, wanneer die maatskappy gestig is en of dit nie 'n selfverryking-strategie was nie.
Die OB moet ook bepaal of die geld op bedrieglike wyse spandeer is en indien wel, hoe die geld teruggekry gaan word.
Gegewe die geskiedenis van die ANC in Gauteng rakende Covid-19-tenders, sal die VF Plus verseker dat hierdie klag teen die Gauteng-onderwysdepartement deeglik ondersoek word.