Die DA maak daarop aanspraak dat hy saam met ander opposisiepartye en sommige ANC-raadslede op 25 Julie 2018 mnr. Mangaliso Matika, burgemeester van die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit (Kimberley en omgewing), uit sy posisie verwyder het. Alhoewel die VF Plus ten gunste van die verwydering van Matika is, beskou die party die proses as onvoldoende. Die onvoldoende proses kan die teenoorgestelde uitwerking hê as wat beplan is.
Dié optrede het 'n lang aanloop, maar die klem val tans op die vergadering waar dié besluit geneem is. Die DA, EFF en ontevrede ANC-raadslede het versoek dat 'n spesiale raadsvergadering Woensdag byeengeroep sou word.
Die swepe van al die partye het oor die aansoek vergader en verskeie tegniese haakplekke is uitgewys. In reaksie daarop het die raadslede van die DA, die EFF en 'n faksie van die ANC wat reeds in die raadsaal was, hulle as vergadering gekonstitueer. Buiten ander moontlike tegniese tekortkominge, het die sogenaamde vergadering versuim om aan lede wat nié in die raadsaal was nie, kennis te gee. Die beginsel van 'n kworum is immers dat alle lede kennis ontvang en dat die voorgeskrewe getal met hulle teenwoordigheid daarop reageer.
Indien hierdie optrede geldig was, sou dit beteken dat 'n meerderheidsparty altyd sy lede byeen kan roep en die byeenkoms dan as ‘n raadsvergadering konstitueer.
Die VF Plus erken die erns van die situasie waarop met dié stap gereageer is. Hoewel die korttermyn-doelwit bereik is deurdat beplande protesoptrede voorlopig afgelas is, is daar nie 'n oplossing bereik nie. Stabiliteit en goeie regering kan slegs deur reëlmatige optrede bereik word.
Kontaknommer: 074 166 5540