Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Verbruikerskommissie in gesprek met Sanral oor klag van VF Plus

Die klag wat die VF Plus in November verlede jaar by die Verbruikerskommissie ingedien het oor Sanral se toerusting en wat daarop neerkom dat alle e-tolrekeninge onwettig is, word ondersoek en die kommissie is tans in gesprek met Sanral oor die aangeleentheid, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Die klag is daarop gegrond dat Sanral se toerusting wat by die Gautengse e-tolstelsel gebruik word, nie aan die wetlike vereistes en voorskrifte nie voldoen nie, en alle gelde wat tot nou toe ingevorder is of ingevorder gaan word, is of word daarom op ‘n onwettige wyse gedoen.

Alle toerusting wat vir die besondere doel aangewend word, moet voldoen aan die vereistes van die Wetlike Metrologiewet (Wet 9 van 2014) voordat geld van motoriste ingevorder mag word.

Volgens adv. Alberts het die Verbruikerskommissie aan hom bevestig dat die saak ondersoek word en die kommissie wag nou op die reaksie van Sanral oor die klag.

“Die proses is aan die gang. Ons mening is dat die saak baie sterk is in terme van die wet se duidelike voorskrifte oor die sertifisering van tolinstrumente. Dit is ‘n misdryf indien dit nie gedoen word nie en ook indien advertensies uitgereik word in dié verband.

“Daar was berigte in die media dat die saak vir mediasie verwys is, maar die Verbruikerskommissie het dit ontken en bevestig dat die saak inderdaad ondersoek word.

“Die VF Plus gaan intussen ook die aangeleentheid opneem met die Gesagsliggaam vir Reklamestandaarde (GRS) om te verhinder dat enige verdere advertensies oor e-tol in enige vorm geplaas word,” sê adv. Alberts.

Ter volledige agtergrond plaas ons ook die vorige mediaverklaring gedateer 2 November 2015

 
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

ONDERWERP : VF Plus-ondersoek bevind dat alle e-tolrekeninge onwettig is

UITGEREIK DEUR : Adv. Anton Alberts

HOEDANIGHEID : VF Plus-parlementêre woordvoerder: Vervoer

DATUM : 2 November 2015

 

Sanral se toerusting wat by die Gautengse e-tolstelsel gebruik word, voldoen nie aan wetlike vereistes en voorskrifte nie, en alle gelde wat tot nou toe ingevorder is of ingevorder gaan word, is of word op ‘n onwettige wyse gedoen, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Hy sê Sanral moet eers aan die vereistes van die Wetlike Metrologiewet (Wet 9 van 2014) voldoen voordat hy geld van motoriste mag invorder.

Volgens adv. Alberts het hy op navraag by die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS) bevestiging gekry dat die e-tol-toerusting nooit gesertifiseer is soos die wet vereis nie. Die NRVS het ook bevestig dat daar nooit aansoek gedoen is om sertifisering nie.

Die oortreding van die wet kan ernstige gevolge vir die oortreder inhou en ‘n maksimum vonnis van tien jaar gevangenisstraf of ‘n boete, of beide, kan opgelê word. In hierdie geval blyk dat verskeie aspekte van die wet oortree is, sê adv. Alberts.

Sanral se versuim om aan die wetsvereistes te voldoen konstateer terselfdertyd ‘n oortreding van vyf artikels van die Nasionale Wet op Verbruikersbeskerming.

Die artikels is: Artikels 40 (gewetelose optrede); 41 (vals en misleidende voorstellings); 48 (‘n verbod op die verskaffing van goedere of ‘n diens wat onregverdig en onbillik is); 49 (die weerhouding van inligting wat die verbruiker te na kom en waar die verbruiker dit nie redelikerwys kon insien nie) en; 54 (die verbruikers se reg om aan te dring op diens van ‘n hoë kwaliteit).

Adv. Alberts sê die VF Plus het vandag ‘n klag ingedien by die Verbruikerskommissie.

Hy sê die VF Plus vra die Verbruikerskommissie om ‘n beslissing te maak dat alle rekeninge onwettig verklaar word tot tyd en wyl die spesifikasies van Sanral se e-tol-toerusting die goedkeuring van die NRVS wegdra.

‘n Bevinding moet ook gemaak word dat Sanral alle gelde wat reeds aan e-tol betaal is, aan die verbruikers terugbetaal.

“Dit is van die grootste belang dat hierdie saak, wat tienduisende padgebruikers en die land se totale ekonomie direk raak, so gou moontlik opgeklaar word en dat dringende regstellende stappe geneem word.

Die VF Plus versoek ook die Verbruikerskommissie om ‘n bevel by die Verbruikerstribunaal hieroor te kry indien nodig,” sê adv. Alberts.

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.