Die VF Plus is teleurgesteld, maar glad nie verras nie, dat die grondwethof hof die Universiteit van Stellenbosch se taalbeleid, wat Afrikaans ondergeskik aan Engels stel, gehandhaaf het. Dit is omdat die Suid-Afrikaanse staat, soos alle state, aan 'n bepaalde ideologie verbind is. Daardie ideologie is op sy beurt aan 'n Engelstalige swart identiteit verbind.
Met die skikking van 1994 was baie mense onder die indruk dat die nuwe bedeling neutraal ten opsigte van ideologie en identiteit sou staan. Alles sou volgens die reëls van die liberale demokrasie geskied. Kulturele regte sou oorbodig wees, want individuele regte sou die plek daarvan inneem. Die reg op onderrig tot op die hoogste vlak, sou byvoorbeeld deur individue uitgeoefen kon word.
Geleidelik het dit geblyk dat hierdie waarborge onvoldoende is. Onder die dekmantel van inklusiwiteit is Afrikaanse onderriginstellings onder druk geplaas.
Daar word nou daarop aangedring dat elke universiteit die totale bevolking moet weerspieël; nie slegs die studentebevolking as geheel nie. Dit beteken dat witmense (want die regering stel net in ras belang) in geen instelling meer as 12- tot 15% van die studente of personeel behoort uit te maak nie.
Vordering in dié verband word inderdaad dopgehou en aan die parlement gerapporteer.
Onlangs het die minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, dr. Blade Nzimande, selfs vyandig teenoor 'n private inisiatief op die terrein van hoër onderwys gereageer.
Die VF Plus dring daarop aan dat die regering sy benadering tot kulturele verskeidenheid na die voorbeeld van Etiopië moet hersien. Ter behoud van nasionale eenheid het daardie land tussen 1990 en 1996 van 'n eenheidstaat na 'n kulturele federasie oorgegaan.
Die Suid-Afrikaanse staat is daartoe verbind om alle kulture tot 'n swart, Engelssprekende nasie te versmelt. Waar Afrikaans, byvoorbeeld, geduld word, is dit slegs voorlopig. Dít is die boodskap van die grondwethof oor die Universiteit van Stellenbosch se taalbeleid.
Kontaknommer: 074 166 5540