Die gevolge van die ANC-regering se swak beleidsrigtings, staatskaping en korrupsie kan duidelik gesien word in die jaarverslag van die Industriële-ontwikkelingskorporasie (IOK) wat vandag voor die parlementêre portefeulkekomitee vir handel en nywerheid ter tafel gelê is.
Die verswakte ekonomiese klimaat in die land en veral in die mynbedryf het grootliks bygedra tot ‘n afplatting van handelsfinansiering in die 2018/19-finansiële jaar en het daartoe gelei dat die IOK 10 000 minder werksgeleenthede geskep het as wat in die 2017/18-finansiële jaar geprojekteer is.
Handelsvenote van die IOK het projekte vir eers op ys geplaas wat finansieringsplanne vertraag wat tot verdere werksverliese kan lei. Die negatiewe uitkyk van die kredietgraderingsagentskap Moodeys op die Suid-Afrikaanse ekonomie en die afgradering van Suid-Afrikaanse handelsbanke wek geen beleggingsvertroue in die land nie.
Midde in die krisis waarin die Suid-Afrikaanse ekonomie verkeer, sal die regering nou op ‘n dringende basis sy bankrot semi-staatsinstellings moet privatiseer en van onwerkbare beleidsrigtings soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet oor eiendomsreg en die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) moet afsien.
Navrae: 082 466 3786 / 0623911804