Die VF Plus betreur die verswakte toestand waarin die twee nasionale reguleerders, die Suid Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) en die Suid Afrikaanse Reguleerder vir Verpligte Standaarde (NRVS) verkeer nadat beide gekwalifiseerde ouditverslae van die ouditeur-generaal (OG) ontvang het.
Ná voorleggings van die reguleerders vandag aan die portefeuljekomitee vir handel en nywerheid is dit duidelik dat staatskaping, korrupsie en vakante sleutelposte die instellings laat steier terwyl die verswakte Suid Afrikaanse ekonomie sake verder bemoeilik.
Die VF Plus neem kennis van die herstelplanne wat ingestel is, maar twyfel of dit die reguleerders op die herstelpad sal plaas. Die SABS is reeds sedert Julie 2018 onder administrasie en die NRVS behoort deur minister Ebrahim Patel onder administrasie geplaas te word.
Die verswakking van die reguleerders het die deur geopen vir die onwettige invoer van grysprodukte en 'n algemene verlaging van standaarde tot nadeel van Suid Afrikaanse verbruikers.
Dit is duidelik dat die volgehoue wyse waarop die Suid Afrikaanse regering sy beleid van swart ekonomiese bemagtiging en kwota-aanstellings najaag, swaarder weeg as gesonde sakebeginsels. Dit kom neer op industriële sabotasie.
Kontaknommer: 082 466 3786/062 391 1804