Die vlaag van mishandeling, aanranding en verkragting van kinders in Suid-Afrika is kommerwekkend en die Vryheidsfront Plus vra strenger optrede teen mense wat misdade teen kinders pleeg, sê Amanda de Lange, VF Plus-woordvoerder oor vroue-aangeleenthede.
Die jongste voorval – by ‘n dagsorgsentrum in Pretoria waar oplettende ouers daarvan bewus geraak het dat hul kind aangerand en verwaarloos word, dui ook daarop dat werkende ouers dit nie as vanselfsprekend kan aanvaar dat hul kind veilig is in ‘n bewaarskool nie.
De Lange sê kinders is die mees weerlose deel van ‘n gemeenskap en alles moontlik moet deur alle rolspelers gedoen word om hulle te beskerm.
“Dit was selfs skokkend om in die media te sien hoe ouers hul kinders toelaat om by ‘n motorruit uit te hang en foto’s te neem van leeus in die Krugerwildtuin. Dit ondanks die feit dat onlangs berig is oor verskeie voorvalle waarin mense deur wilde diere gedood of beseer is.
“Sulke optrede is onverstaanbaar en uiters nalatig. Die ouers behoort aangekla en permanent die wildtuin verbied te word.
“Die vrouekomitee van die VF Plus vra dat daar streng opgetree word om die euwel van misdaad teenoor kinders in ons samelewing uit te roei,” sê De Lange.
Amanda de Lange
Kontaknommer: 071 604 9498