Die Speaker, dr. Max Sisulu, het reageer op die versoek van die Vryheidsfront Plus om ‘n dringende debat in die parlement te hou oor die Nkandla-verslag van die Openbare Beskermer. In antwoord op die versoek van die VF Plus (25 Maart) het die Speaker gesê hy wag vir die reaksie (verslag) van pres. Zuma op die verslag. Sodra hy pres. Zuma se verslag ontvang het sal hy dit in die parlement ter tafel lê en met alle politieke partye in die parlement konsulteer oor die parlementêre proses wat gevolg moet word.
“Hoewel die Speaker hom beroep op art. 3(5)(a) van die Wet op Etiek vir die Uitvoerende Gesag, waarin die Openbare Beskermer (OB) Zuma 14 dae tyd gee om te reageer op haar verslag, het die Speaker nou minstens onderneem om Zuma se verslag dan in die parlement ter tafel te lê. Dit baan die weg vir ‘n indringende debat in die parlement oor die Nkandla-verslag en Zuma se reaksie daarop. Die VF Plus sal die Speaker by sy onderneming hou en sodra die 14 dae verstreke is moet Zuma reageer en sal die VF Plus steeds vra vir ‘n dringende debat daaroor,” sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre leier.
“Daar is geen twyfel by die VF Plus dat hierdie debat voor die verkiesing moet plaasvind. Die Vryheidsfront Plus beskou hierdie saak van soveel openbare belang dat die Speaker ‘n uitsondering moet maak en selfs ‘n spesiale sittingsdag daaroor moet reël,” het Groenewald gesê.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403