Die toepassing van skoolreëls wat vir alle leerlinge geld is die naweek by die Hoërskool Hopetown in 'n rassevoorval omskep toe ‘n leerder se selfoon afgeneem is toe sy dit nie by haar mag gehou het nie en haar broer toe op sosiale media die skoolhoof van rassisme beskuldig het, sê dr. Wynand Boshoff, leier van die VF Plus in die Noord -Kaap.
Dr. Boshoff sê die voorval het gespruit uit die jaarlikse swemgala by die skool. Die dogter se foon is afgeneem aangesien sy dit volgens skoolreëls nie tydens die gala by haar kon hê nie. Haar broer het daarna op sy Facebookblad geskryf die skoolhoof is een van die mees rassistiese onderwysers wat daar is en dat voorvalle soos dié gereeld in die skool voorkom.
Dr. Boshoff, self 'n onderwyskundige, sê die toepassing van skoolreëls laat dikwels 'n bitter smaak in die mond by sommige leerders. Dit gebeur veral wanneer 'n bepaalde oortreding redelik algemeen is, maar deur oortreders versteek word. Wanneer enkele persone die reëls openlik oortree en daar teen hulle opgetree word, ervaar hulle dit soms as viktimisering.
“Die probleem word vererger wanneer 'n skool uit duidelik onderskeibare groepe bestaan. Die oortreder kan maklik voel dat daar teen hom of haar, nie as individu nie, maar as deel van 'n groep opgetree word.
“Die opruiende taal wat die seun in sy video en die byskrif gebruik, is daarop gemik om die skoolgemeenskap te polariseer. Dit bemoeilik enige poging om die saak onpartydig te ondersoek. 'n Kompliserende faktor wat al in 'n akademiese studie oor skole in die omgewing na vore gekom het, is die uiteenlopende, maar diepgewortelde verskille in skoolkultuur tussen die twee hoërskole wat Hopetown bedien
“'n Mens is geneig as't ware blind te wees vir die skoolkultuur waarbinne jy groot geword het. Ervarings in 'n ander skoolkultuur word dan as diskriminerend ervaar, terwyl dit glad nie so bedoel is nie.
“Internasionale akkoorde rakende die regte van minderhede, wat ook deur Suid-Afrika onderteken is, lê daarop klem dat minderheidsgroepe op selfstandige onderwys kan aandring. Dit behoort ook deur die staat befonds te word. Die VF Plus sien die tyd naderkom dat Afrikaners op hierdie internasionale reg moet aandring,” sê dr. Boshoff.
Kontaknommer: 074 166 5540