Tydens ‘n vergadering van die Noordwes-wetgewer se portefeulje komitee oor samewerkende regering, behuising en tradisionele sake (Cogta) het dit duidelik geword dat die aanstelling van administrateurs in die provinsie weinig vrugte afgewerp het, terwyl enorme uitgawes met die aanstellings gepaardgegaan het.
Daar is onder meer in die tydperk vanaf 2018 tot 2020 R70 miljoen bestee aan die administrateurs, waarvan ‘n skokkende R46 miljoen bestee is aan onder meer luukse verblyf, sekuriteit en maaltye. Hierdie geld kon duidelik eerder aangewend word om maatskaplike verligting te bring, infrastruktuur in stand te hou of behuisingsnood te verlig, met dien verstande dat dit onder ‘n verantwoordelike regering sou plaasvind.
Die provinsiale tesourie het by monde van die LUR van finansies in Noordwes, Motlalepula Rosho, erken dat die 2019/2020-ouditresultate vir openbare ondernemings en provinsiale departemente byna dieselfde gebly het as die vorige jaar se ouditresultate.
Dit is ‘n skande dat byna geen merkbare verbetering in die dienslewering van provinsiale departemente en openbare instansies in die provinsie aan die vergadering voorgehou kon word nie.
In 2018 het die nasionale regering juis hierdie administrateurs aangestel om volgens Artikel 100 van die Grondwet in te gryp in Noordwes en die swak bestuur van openbare instansies en departemente te ondersoek en te herstel.
Premier Job Mokgoro het reeds in Junie 2020 erken dat die ingryping vrugteloos was en eerder regeringsake in Noordwes bemoeilik het.
Die Noordwes-provinsie gaan lank reeds gebuk onder wanbestuur, korrupsie en wanbesteding onder die ANC-beheerde regering.
Dit is daarom soveel te meer ‘n skande dat die ANC-regering volhou met hul ideologies gedrewe aanstelling van ontplooide ANC-kaders onder die vaandel van “ingryping” in ‘n provinsie wat tot op die rand van ineenstorting bestuur is.
Navrae: 082 529 3001