(Debat in parlement)
'n Debat oor toepaslike wetenskap- en innovasie-strategieë om 'n veilige kuberomgewing te skep wat die nasie en ekonomie beskerm, is die soort Utopiese versugting vir 'n meganisme om alles wat goed, reg en deugsaam is, te dek. Amper asof dit so eenvoudig is soos: "Ons soek tamaties in die winter wanneer dit ryp. Wetenskap en innovasie moet dit regkry."
Hierdie vraagstuk is veel meer kompleks. Wat is dit in die nasie en die ekonomie wat beskerm moet word? Bedoel ons met die "nasie" die land se burgers, of die land se regering? In Europese lande, byvoorbeeld, beskerm wette burgers teen die regering, maar in China is dit andersom.
Dalk behoort die staat aandag aan private, geïnkripteerde geldeenhede te gee. Dit kan belasting binnekort van 'n gedwonge betaling tot 'n vrywillige bydrae omskep. Landsburgers mag dit wonderlik vind, maar moet onthou dat smokkelaars van wapens en dwelms, selfs meer daarvan hou.
Die eintlike vraag is wat mens die meeste vrees. Ander lande? Kwaadwillige medeburgers? Magtige besighede? 'n Magtige staat? Een of ander mitiese figuur wat deur ons selfone beheer oor ons almal neem? Verrassend genoeg is nie een van hierdie moontlikhede belaglik nie.
Indien die staat kubersekerheid nastreef, moet tussen eksterne – en interne bedreigings onderskei word. Soos die weermag en polisie verskillende funksies het, is daar verskillende funksies rakende kubersekerheid.
Kuberaanvalle, anders as gewone aanvalle, gebeur te vinnig om op te reageer. Daarom moet die klem op voorkoming wees; en in geval van 'n suksesvolle aanval, om presies te weet watter data daardeur geraak is. Slegs wanneer die owerheid en burgers dit weet, kan die gevolge bestuur word.
Binnelands, soos wat burgers teen misbruike deur die polisie beskerm word, moet daar wette wees wat burgers se kuberregte teenoor die staat beskerm. Dit is die doel van die Europese "Global Data Protection Rights" of GDPR. Dit gee die versekering dat die staat in burgers se belang optree – en in die howe uitgedaag kan word indien dit nie die geval is nie.
Die onderwerp raak meer ingewikkeld wanneer ‘n mens besef dat, met die "Internet of Things" elke gloeilamp, geyser, yskas en koffiemasjien, elke draaibank, kragsaag en hyser, by ons rekenaars, radio's, selfone en voertuie in die kuberomgewing aansluit.
Dus, voor ons hierdie doel nastreef, moet gevra word wie burgers die meeste wantrou. In Suid-Afrika is dit bes moontlik die staat. Die staat het nie alleenlik 'n slegte reputasie om in burgers se private ruimtes in te dring nie, die staat se onbevoegdheid neem ook toe.
Die werklikheid is dat, wat die parlement ook al bespreek of besluit, behoort korporatiewe en private landsburgers op te tree asof kubersekerheid alleenlik hul eie verantwoordelikheid is.
Terselfdertyd kan ‘n mens hoop dat die staat doeltreffend na sy eie veiligheid sal omsien, burgers sal beskerm, en wetsgehoorsame burgers met vrede laat.