ANC-wetgewerslede het gister (2 Junie) binne minute ‘n sitting van die Gautengse provinsiale wetgewer in ‘n chaotiese magspel laat ontaard.
Dringende vrae en stellings deur opposisiepartye oor onvoltooide ontwikkelings en beplande gemeenskapsprogramme wat die swak bestuursvermoë van die ANC-beheerde regering uitwys, het lede van premier David Makhura se uitvoerende raad deurgaans op die verdediging gehad.
Lede van die sitting het beledigings en opmerkings heen en weer geslinger en dit was by tye onmoontlik om die vergadering sinvol te volg. Opposisiepartye wat op ‘n punt van orde aangedring het, is nie ‘n spreekbeurt gegun nie terwyl ander se mikrofone afgeskakel is.
Die vergadering waarin kritieke kwessies behandel moes word, was uiters teleurstellend en die indruk is geskep dat die ANC die Covid-19-inperkingsituasie eerder as 'n geleentheid vir 'n politieke magspel gebruik as om die provinsie te bestuur.
Die LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, het pal na die Wes-Kaap as ‘n swak regering verwys en beweer dat ministeriële direktiewe verontagsaam is deur skole te heropen. Hy het die heropening van skole in die Wes-Kaap gekoppel aan die verhoogde Covid-19-infeksiesyfer en -sterftes in dié provinsie.
Lesufi het benadruk dat skole in Gauteng nie sal heropen totdat almal aan die voorgeskrewe Covid-19-regulasies voldoen nie. Volgens hom kan voorstedelike skole nie heropen terwyl skole in landelike gebiede steeds nie behoorlike infrastruktuur en toerusting het nie.
Dit is kommerwekkend dat etlike skole waar onderwysers en hoofde onverpoos gewerk het om leerlinge reeds Maandag (1 Junie) terug te verwelkom, nou langer moet wag.
Skole wat gereed is om te heropen, kan nie gestraf word vir skole wat gedurende die grendeltydperk gevandaliseer is en nie aan die regulasies voldoen nie. Die departement van onderwys het ‘n plig teenoor dié leerlinge om hulle in ander lokale te huisves en te help om aan die regulasies te voldoen. Die VF Plus gaan die saak nie daar laat nie. Dit is ongrondwetlik om leerlinge wat wil terugkeer skool toe, toegang te weier.
Die LUR vir samewerkende regering, tradisionele aangeleenthede en menslike nedersettings, Lebogang Maile, se onbevredigde antwoorde op vrae van opposisiepartye oor die onderprestering van dié departement het chaos veroorsaak. Die departement is verantwoordelik vir laekoste- en bekostigbare behuising.
Daar kan met reg gevra word wat die grootste of gevaarlikste gevaar vir Gauteng se inwoners is – Covid-19 of die ANC se opportunisme en magsbeheptheid.
Kontaknommer: 071 604 9498