Vuurwapens in polisiebewaring wat nie behoorlik bestuur en beheer word nie, kan maklik in die verkeerde hande beland.
Die VF Plus het daarom die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, versoek om dringend ondersoek in te stel na die verdwyning van sestig vuurwapens uit ‘n wapenstoor by die Welbekend-polisiekantoor.
Polisielede het in 2019 ‘n klopjag uitgevoer op ‘n wapenhandelaar van Pretoria-Noord en beslag gelê op 528 vuurwapens.
Volgens inligting is geen lasbrief vir die deursoeking getoon nie en is die vuurwapens deur die polisie en Valke weggeneem.
Daar is geen saak die afgelope drie jaar teen die wapenhandelaar aanhangig gemaak nie. Ná ‘n skikking tussen die vuurwapenhandelaar en die polisie is bevind dat sestig vuurwapens voete gekry het.
Die verdwyning van vuurwapens uit ‘n stoorkamer is onaanvaarbaar en daar is ‘n moontlikheid dat die wapens in die hande van misdadigers kan beland wat dit in rooftogte, moorde of plaasmoorde en -aanvalle kan gebruik.
Die VF Plus het lt.genl. Mawela gevra om ‘n deeglike oudit te doen oor vuurwapens wat tans in polisiebewaring is in Gauteng.
Indien wapens wat as bewysstukke in strafregtelike sake moet dien verdwyn, is die kans groot dat die saak van die hofrol geskrap kan word.
Die VF Plus het die kommissaris ook versoek om ondersoek in te stel na die onregmatige klopjag op die wapenhandelaar en die polisielede wat daarby betrokke was.