Die nalatigheid van die Tshwane-metoraad se gesondheidsafdeling kan veroorsaak dat mense wat daagliks die Zandfontein-begraafplaas besoek ernstig siek word, sê Barend Erasmus, VF Plus-raadslid in die Tshwane-metroraad.
Die probleem van die verstopte mangat, wat vir meer as nege maande reg voor die ingang van die begraafplaas oorloop, is tevergeefs al telkemale onder die raad se aandag gebring.
“Dit is duidelik dat die raad nie ‘n duit omgee nie – die gras om die mangat is toegegroei wat ‘n bewys is dat niemand daaraan aandag gee nie.
“Die probleem het verder versprei na Beverleystraat in Andeon, Pretoria waar rioolwater daagliks oor die pad spoel. Gedeeltes van die pad het begin opbreek wat op sy beurt verkeersopeenhopings veroorsaak,” sê rdl. Erasmus.
Gedurende rdl. Erasmus se besoek aan die begraafplaas het kinders in die besoedelde water gespeel. Baie van die mense wat die pad gebruik, kruis dié gebied te voet wat hul gesondheid in gevaar stel. Dit is beslis ‘n ramp wat wag om te gebeur.
“Die situasie is veral ook ‘n ernstige verleentheid vir mense wat Zandfontein-begraafplaas gebruik om ‘n geliefde te begrawe.”
Die VF Plus het ‘n dringende beroep op die Tshwane-munisipaliteit gedoen om ernstig aandag aan dié probleem te skenk.
Barend Erasmus
bennieerasmus@live.co.za