President Cyril Ramaphosa is nie van mening dat die staat ‘n leidende rol moet speel om rassespanning in die land te ontlont nie en hy het die idee van ‘n nuwe vredesakkoord tussen die mense van Suid-Afrika in die vorm van ‘n Kodesa 2 vandag van die tafel gevee.
Op ‘n parlementêre vraag van die leier van die VF Plus (dr. Pieter Groenewald), het pres. Ramaphosa toegee dat daar probleme rondom rassespanning in die land is wat aansluit by klas- en geslagsprobleme, maar dat die mense van die land self die verantwoordelikheid op hulle moet neem om eenheid te bewerkstellig.
Dr. Groenewald het onder meer verwys na bewerings van onderliggende rassespanning in KwaZulu-Natal voor die onlangse onluste en die rol van geïnstitusionaliseerde rassisme soos die munisipale motorveiling in eThekwini (Durban) waar wit, bruin en Indiërs aanvanklik uitgesluit is.
Hy het ook verwys na die werk van die Waarheid en Versoeningskommissie (WVK) om versoening te bewerkstellig en die feit dat daar nou weer begin word om mense te vervolg oor wat in die verlede gebeur het.
Volgens dr. Groenewald is hierdie soort optrede nie versoening nie, maar wraak.
Dit is belangrik vir elke mens in Suid-Afrika om versoening na te streef en eenheid te bevorder, maar dit is in die eerste plek die plig van die regering wat grootliks vir die probleme verantwoordelik is, om die leiding hierin te neem.
Daarom is dit jammer om van die president te hoor dat hy nie belang stel in die moontlikheid van ‘n nuwe vredesakkoord nie.