Die VF Plus het ernstige bedenkinge oor die sinvolheid van provinsiale ingryping op plaaslike regeringsvlak ingevolge Artikel 139 (1)(b) van die Grondwet aangesien dit duidelik nie lei tot die verbetering van dienslewering aan die gemeenskap nie.
Een voorbeeld is die Masilonyana-plaaslike munisipaliteit (Brandfort, Theunissen, Verkeerdevlei en Winburg) wat sedert April 2017 tot onlangs onder provinsiale administrasie was sonder enige verbetering. Die munisipaliteit se omstandighede het tewens verder verswak.
Uitstaande skuld aan Eskom het toegeneem, water-infrastruktuur het in duie gestort, oudit-uitkomste en die algehele finansiële toestand van die munisipaliteit het versleg.
Dit is daarom skokkend dat die Vrystaatse regering sy provinsiale toesig onlangs opgeskort het en daardeur vir alle praktiese doeleindes die handdoek ingegooi het in die stryd om Masilonyana te red. Die situasie is verder ontredder deur die nasionale tesourie se besluit om fondse aan dié munisipaliteit te staak ingevolge Artikel 216(2) van die Grondwet weens ‘n onbefondsde begroting.
Die begrotingsagterstand het uitgespeel onder provinsiale toesig wat dui op die mislukking van die provinsiale regering om suksesvol uitvoering te gee aan wetgewing.
Soos gewoonlik hierdie tyd van die jaar gebeur, dreig Eskom boonop om kragvoorsiening aan verskeie munisipaliteite te staak weens wanbetaling. Dit sluit in die Mangaung-metro (Bloemfontein), Masilonyana, Mafube (Frankfort, Villiers en Tweeling), Mantsopa (Ladybrand, Hobhouse en Tweespruit) en Mamusa (Schweizer-Reneke). Die inwoners van hierdie gebiede kan ‘n donker feestyd tegemoet gaan.
Plaaslike regering is die ANC se grootste, enkele mislukking. Dit kan nie so voortgaan nie en die tyd het aangebreek om vernuwend te dink aan 'n meer effektiewe plaaslike regeringsmodel.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216