Die grootskeepse korrupsie in Limpopo is besig om ‘n ernstige wending te neem en die VF Plus in dié provinsie veroordeel die doodsdreigemente teen die ANC se provinsiale sekretaris, mnr. Soviet Lekganyane, wat hom uitgespreek het teen die korrupsie.
Die dreigemente volg nadat hy as lid van die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) van die ANC ‘n verslag oor die beweerde korrupsie in die Mogalakwena-munisipaliteit in Potgietersrus by Luthuli-huis in Johannesburg ingehandig het.
Die VF Plus dring daarop aan dat die probleem by die munisipaliteit dringende aandag kry op nasionale regeringsvlak en dat die dreigemente ernstig opgeneem word.
Mnre. Vaaltyn Kekana, voorsitter van die munisipale openbare rekeningekomitee en Ralph Kanyane, ANC-distriksekretaris, is albei in Julie helder oordag vermoor, kort voor hulle ook ‘n verslag oor korrupsie in die munisipaliteit wou bekend maak.
Die VF Plus het reeds in Augustus ‘n versoek gerig tot mnr. Basikopo Makamu, Limpopo se LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Cogta), vir die verwydering van me. Andrina Matsemela, burgermeester van Potgietersrus weens beweerde ongerymdhede en dat ‘n indringende ondersoek na die aangeleentheid gedoen word.
Dit is kommerwekkend dat daar tot vandag toe geen terugvoering of erkenning ontvang is van die LUR nie. Die VF Plus sal dit nie daar laat nie. Hoeveel mense moet sterf in die stryd teen korrupsie voordat die regering gaan optree?
Kontaknommer: 066 024 4623