fbpx
Vryheidsfront Plus

Privatiseer SAL om verdere vermorsing van belastinggeld stop te sit

Die jongste “omkeerstrategie” by die SAL nadat tien vorige omkeerpogings misluk het, plaas ‘n swaar las op die belastingbetaler en die redery moet geprivatiseer word om verdere vermorsing van belastinggeld stop te sit, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies.

Dr. Groenewald het vandag met die begrotingsposdebat van die departement van finansies gesê die SAL is tegnies bankrot en finansiële state word nie eens ingedien nie.

Hy sê die rede hiervoor is ‘n versoek van die SAL om ‘n subsidie van R5 miljard van die tesourie te verkry terwyl die tesourie aandring op sekere sekerheidsondernemings alvorens die geld beskikbaar gestel kan word. Dit kom neer op ‘n “skaakmatsituasie”.

“Sedert 1999 tot op hede het die SAL reeds meer as R30 miljard se staatshulp of subsidies gekry. Sommige mense reken die bedrag is nader aan R45 miljard. Daar is ‘n houding onder die bestuur dat prestasie nie belangrik is nie en geld nie ‘n probleem is nie want die tesourie sal maar net weer gee. Dit is mos eenvoudig onaanvaarbaar om die belastingbetaler se geld so te mors.

“Wat dan verstom is dat die bankrot redery nou ‘n borgskap van vyf jaar vir die nasionale sokkerspan, Bafana Bafana gegee het.

“Dit gaan hier nie oor watter span geborg word nie, maar oor die beginsel dat ‘n entiteit wat tegnies bankrot is, nou direk geld van die belastingbetaler gebruik om ‘n borgskap te gee aan ‘n sportspan. Hy kan dit eenvoudig nie bekostig nie.

“Die detail rondom die borgskap is onbekend, maar die VF Plus doen ‘n beroep op die minister om in te gryp in sulke gevalle van vermorsing.

“Die VF Plus het nie ‘n probleem daarmee as sportspanne geborg word nie, maar dan moet hulle dienooreenkomstig presteer om die borgskap sinvol te maak. Die sokkerspan het egter gaandeweg verswak en is nou in die 70ste plek op sokker se wêreldranglys.

“Die tyd het aangebreek dat die SAL geprivatiseer word sodat daar ‘n einde kan kom aan die verkwisting van belastinggeld,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.