fbpx
Vryheidsfront Plus

Politieke moorde ‘n maaksel van die ANC (Debat in NRP: Moorde op raadslede)

Die groot voorkoms van moorde op raadslede het gewoonlik een gemene deler: Politieke mag wat toegang gee tot geld. Dit manifesteer in gevegte rondom patronaatskap binne die regerende ANC.

Onderliggend hieraan is besluitnemingsmagte oor veral tenders, met die burgery wat in alle gevalle moet opdok en politici wat soms met hul lewe betaal.

President Cyril Ramaphosa het onlangs gesê bykans 300 raadslede is in die onlangse verlede in Suid-Afrika vermoor. Volgens hom is daar vele redes. Hy het wel gewelddadige protesaksies oor dienslewering as een daarvan uitgesonder.

Die moorde is ook nie ‘n nuwe verskynsel nie. Reeds in 2013 is berig dat meer as 450 politieke sluipmoorde in KwaZulu-Natal plaasgevind het sedert 1994.

In Augustus 2016 is berig dat daar ten minste 20 sluipmoorde in dié provinsie was in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing.

Luidens ‘n berig in die Sowetan is 54 raadslede en munisipale amptenare vermoor sedert 2021. Dit hou glo verband met bendebedrywighede en afpersing rondom bouprojekte.

Die politieke ontleder Aubrey Matshinqi se beskrywing hiervan is dat politieke mag sedert 1994 nie die einddoel is nie, maar die vertrekpunt of sleutel tot rykdom.

Veral plaaslike regeringsverkiesings sien hy daarom nie soseer as ‘n stryd om politieke mag nie, maar ‘n stryd om die beheer van die rykdom wat dit ontsluit.

Dit word moontlik gemaak deur die speelveld vir kaderbevoordeling en korrupsie wat die ANC geskep het.

Minister Gwedi Mantashe het al gesê die verkiesing van kandidate vir raadslede het ‘n dobbelspel met die dood geword. ‘n Fluitjieblaser oor die ANC, Thabiso Zulu, het hierdie magspel vergelyk met die mafia.

Dit is daarom ‘n skreiende ironie dat die president van ’n politieke party waar korrupsie, afpersing, kader-ontplooiing, faksionalisme en politieke moorde aan die orde van die dag is, ’n interministeriële komitee skep om politieke moorde in sy eie party te ondersoek.

Die spesiale taakspan wat pres. Ramaphosa hiervoor op die been gebring het, word met belastinggeld gefinansier.

Dit gebruik die mannekrag van spesialis-ondersoekeenhede terwyl 68 gewone burgerlikes daagliks in die land vermoor word en misdaad gedy.

Om hierby aan te sluit, betaal belastingbetalers R2 miljard per jaar om die ANC se top-politici te beskerm. Dit is ‘n skande.

Die ANC moet ophou om die oorsaak en skuld vir politieke moorde op die burgery te plaas. Dit is sy eie maaksel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.