fbpx
Vryheidsfront Plus

Polisie se landelike veiligheidsplan beteken niks sonder uitvoering

Die onlangse bekendstelling van die polisie se landelike veiligheidsplan en uitsprake van me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling oor probleme wat boere raak, soos landelike veiligheid, is bemoedigend, maar niks sal verander indien hierdie woorde nie in dade omskep word nie.

Die VF Plus verwelkom verskeie aspekte van die landelike veiligheidsplan soos groter inklusiwiteit in beplanning en optrede en die daarstel van snel-reaksie-eenhede.

Die verslag wys egter self uit waarom vorige soortgelyke planne misluk het en die nuwe plan is ook gedoem tot mislukking indien die lesse nie ter harte geneem word nie.

Die 2011/2012 – 2017/2018-plan is luidens die verslag weens verskeie redes nie volledig landwyd uitgerol nie. Dit is bemoedigend dat daar ruiterlik erken word dat interdepartementele probleme in die polisie daartoe gelei het dat die plan nie behoorlik uitgevoer kon word nie.

Onvoldoende en onvolhoubare menslike en logistieke hulpbronne by landelike polisiewyke sonder inagneming van die belangrikheid van infrastruktuur soos paaie, het die plan verder gekelder. Bogenoemde kom neer op ‘n erkenning dat die plan ondeurdag en prakties onuitvoerbaar was.

Die VF Plus wil die minister van polisie, Bheki Celi, daarop wys dat dieselfde probleme soos ‘n tekort aan geld en mannekrag steeds aanwesig is. Die minister self het reeds aangedui dat die polisie tans met 60 000 lede onderbeman is.

Die verslag meld ook die negatiewe impak van gewone misdaad soos veediefstal, huisbraak en diefstal op boere en die moeilike polisiëring daarvan weens die probleme wat bo genoem is.

Dit is nogtans ‘n goeie vertrekpunt om foute wat gemaak is te erken, en om te erken dat die beveiliging van landelike gebiede en die landbougemeenskap in die besonder, ‘n prioriteit vir die polisie is en dat spesiale beplanning en samewerking nodig is om die gemeenskap te beveilig.

Die stryd wat Suid-Afrika se boere teen die elemente voer, veral met die heersende, knellende droogte, is reeds ‘n wesenlike stryd om oorlewing. Daar kan nie van hulle verwag word om boonop ‘n oorlewingstryd teen misdaad te voer nie.

Die VF Plus het hom nog altyd verbind tot die verbetering van boere se lot in Suid-Afrika en sal voortgaan om die regering te wys op sy plig en verantwoordelikheid om erns te maak met landelike beveiliging in belang van almal in die land.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.