Die dorpe Dewetsdorp, Van Stadensrus en Wepener word afgeskeep deur die Mangaung-metro met betrekking tot dienslewering. Die inwoners van hierdie dorpe kry geen voordeel sedert hul inlywing by die metro nie.
Een van die grootste probleme wat ondervind word, is die gebrek aan die nodige toerusting om die rioolstelsel skoon te maak.
Daar is geen toerusting beskikbaar om verstoppings in die rioolstelsel te herstel nie en die nodige toerusting moet van Bloemfontein aangery word. Dit neem soms tot veertien dae voordat die toerusting opdaag.
Die VF Plus het ‘n brief aan die stadsbestuurder gestuur met die versoek dat die nodige toerusting aan die munisipale kantore op Dewetsdorp verskaf word. Die stadsbestuurder is ook versoek om die nodige kantoortoerusting, telefone en skryfbehoeftes aan die munisipale kantoor op Dewetsdorp te verskaf aangesien die kantoor nie daarsonder kan funksioneer nie.
Die aanwending van die toegekende bedrag in die begroting kan bevraagteken word aangesien die geld duidelik nie in die ou Naledi-plaaslike munisipaliteit bestee word nie. Dit het tot gevolg dat daar nie eens basiese dienslewering is nie aangesien die amptenare in die munisipale kantoor nie die nodige toerusting het om hul werk te doen nie.
Die VF Plus sal aanhou om volgehoue druk op die stadsbestuurder en die munisipaliteit te plaas om te verseker dat omstandighede vir die dorp en sy inwoners verbeter.
Kontak: 064 847 1560