Vier maande nadat die VF Plus ‘n klag ingedien het oor propagandistiese advertensieborde in ANC-kleure wat Gauteng se provinsiale regering langs paaie in die provinsie opgerig het, is daar nog nie eens begin met die ondersoek nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.
Volgens dr. Mulder het die VF Plus op 27 November verlede jaar ‘n klag by die Openbare Beskermer (OB) ingedien oor 51 reuse advertensieborde langs die paaie in Gauteng.
Hy het aangevoer die borde is ’n ernstige bedreiging vir die Suid-Afrikaanse demokrasie aangesien dit miljoene rande se gratis advertensie aan die ANC besorg deurdat belastingbetalersgeld aangewend word om een enkele party te bevoordeel. Dit maak ’n vry en regverdige verkiesing vanjaar onmoontlik.
Dr. Mulder sê die toedrag van sake is teleurstellend aangesien die ANC nou al vir maande gratis advertensies kry en die verkiesing voor die deur is.
“Die advertensieveldtog wat regeringsuksesse uitdra, kos meer as R2 miljoen per maand. Hierdie koste word nie deur die ANC gedek nie, maar kom uit die staatskas.
“In geen volwasse demokrasie sal dit toegelaat word dat propagandistiese advertensies in die regerende party se kleure tydens ’n verkiesing deur belastingbetalersgeld betaal word nie. Opposisiepartye se kiesers betaal dus vir ANC-propaganda tydens die verkiesing wat tot nadeel van daardie opposisiepartye is.
“Dit maak die speelveld totaal ongelyk aangesien ander politieke partye op geen wyse uit eie fondse met die regerende party kan meeding nie,” sê dr. Mulder.
Teen begin Februarie het die OB die VF Plus in kennis gestel dat die saak verwys is na die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK). Vandag het die OVK die VF Plus in kennis gestel dat die saak terugverwys is na die OB.
In haar skrywe vandag aan die VF Plus sê die OVK se voorsitter, adv. Pansy Tlakula, die OVK het ‘regsmening ingewin’ oor die aangeleentheid en die regsadvies was dat die OVK nie die ‘magte en bevoegdhede’ het om die klag te ondersoek nie.
Volgens dr. Mulder voorspel die OVK se onbereidwilligheid om die saak te ondersoek, niks goed vir die verkiesing nie.
“Die VF Plus is van mening dat hierdie wel ‘n OVK-aangeleentheid is aangesien dit direk met die verkiesing verband hou. Intussen het daar soveel tyd verloop dat dit byna sinloos sou om in hierdie laat stadium voor die verkiesing met die ondersoek te begin.
“Tot op datum het die OVK ook nog nie aan die VF Plus terugvoer gegee oor ‘n versoek op 12 Februarie vanjaar om opruiende uitsprake en opsweping tot geweld teen wit mense onder die naam van Julius Malema se EFF te ondersoek nie.
“Uit mediaberigte blyk dit dat die OVK sedert verlede jaar al verskeie klagte oor opruiende EFF-baniere en inskrywings op die EFF se facebook-blad ontvang het, maar ook hier is nie opgetree nie.
“Dit laat ernstige bedenkinge ontstaan oor dié liggaam se bevoegdheid om sy rol as waghond in die komende verkiesing doeltreffend uit te voer,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403