fbpx
Vryheidsfront Plus

Optrede moet kom teen amptenare wat kinders uit kinderhuise in KwaZulu-Natal verwyder

Die optrede van KwaZulu-Natal se departement van maatskaplike ontwikkeling wat kinders verlede Vrydag uit drie kinderhuise verwyder het, is ‘n menseregteskending wat boonop die lewe van talle kinders in die gevaar gestel het en die VF Plus gaan klagte by die polisie en die MRK teen die departement en die betrokke amptenare indien.

Amptenare van die departement het vandag tot laatmiddag vergader met persone wat by die beheer van die drie kinderhuise betrokke is. Die drie huise is Mórester Ladysmith, Mórester Newcastle en Huis Meah op Newcastle.

Volgens die VF Plus se inligting heers daar groot ontevredenheid onder diegene wat by die kinderhuise betrokke is en wat die vergadering vandag bygewoon het aangesien die departement geen bevredigende antwoorde kon verskaf oor sy optrede nie.

Volgens die persone blyk dit steeds dat daar bloot op grond van bewerings opgetree is waarin beweerde rassisme ‘n groot rol gespeel het. Volgens hulle het die departement nie voorheen enige klagte met hulle bespreek nie, en was die optrede sonder gesprek of waarskuwing.

Veral kommerwekkend is die feit dat van die kinders – van babas tot tieners, lewensbedreigende siekte-toestande het en van hulle moet chroniese medisyne en spesiale behandeling ontvang. Hierdie kinders is nieteenstaande die pleidooie van personeel van die skole verwyder, in gevalle sonder enige medisyne.

Dit blyk ook dat van die kinders, wat luidens mediaberigte in sommige gevalle onder dwang en met gewapende polisiebegeleiding verwyder is, oor die naweek reeds weggeloop het vanwaar die departement hulle geplaas het, terug na die kinderhuise.

Wat die situasie werklik tragies en traumaties vir veral die kinders maak, is die feit dat die tehuise feitlik die enigste tuiste is wat hulle ken.

Dit is feitlik dieselfde as om kinders uit hul ouerhuise weg te skeur sonder antwoord of rede, want tot in hierdie stadium is daar volgens die betrokkenes nog nie enige bevredigende antwoord of rede vir die optrede verskaf nie.

Die voorval is skokkend en onaanvaarbaar en die VF Plus sal ‘n klag by die Menseregtekommissie (MRK) indien, en sal ook vra dat die polisie ‘n strafregtelike klag van ontvoering ondersoek.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.