Dit is die regering en die departement van vervoer se plig om in belang van Suid-Afrika se ekonomie te sorg dat die land se werkmag goedkoop, veilig en stiptelik van hul wonings werk toe en terug vervoer word, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Hy sê alhoewel die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) die ANC-regering aanraai om meer in openbare infrastruktuur aan vervoer te bestee, is dit duidelik uit dié departement se begroting dat dit nie gedoen word nie.
Volgens adv. Alberts is ‘n wesenlike probleem dat die regering al hoe meer beplan om gebruik te maak van ‘n ‘Gebruiker Betaal’-beginsel, met ander woorde meer tolpaaie om die probleem van ‘n tekort aan paaie te behandel.
“Die minister van vervoer (Dipuo Peters) behoort nou al te weet wat die publiek van tolpaaie dink. Indien sy voortgaan met hierdie planne, moet sy begroot vir konflik vorentoe,” sê adv. Alberts.
Adv. Alberts sê daar is wyses hoe die departement geld kan spaar wat eerder aangewend kan word om Gauteng se e-tolskuld te betaal en wat in die kort-, en lang termyn aangewend kan word vir die bou van paaie:
“Die voorgestelde Oorhoofse Vervoer Ekonomiese-reguleerder is iets waarna verbruikers en ekonomiese rolspelers kan uitsien, mits dit vinnig geskep word en dit sterk en onafhanklik optree om vervoerpryse billik te reguleer. Tans word verbruikers uitgebuit en het dit ‘n negatiewe impak op die ekonomie.
“Dit sal die minister ook loon om die president te oorreed om ‘n kommissie van ondersoek aan te stel na die wanbestuur van die Padongelukkefonds. Die fonds faal nie omdat die stelsel swak ontwerp is nie, maar weens swak bestuur.
“Dit is ‘n vals redenasie om te dink die stelsel gaan verbeter deur dit te vervang met die voorgenome Padongelukkefonds Voordeleskema, ook bekend as RABS. Hierdie nuwe stelsel is wesenlik gebrekkig omdat dit eisers ontneem van onafhanklike regsadvies. Dit beperk ook die fondse wat nodig is om vir eisers te sorg vir die res van hulle lewe waar nodig.
“Om te fokus op rehabilitasie terwyl die openbare gesondheidstelsel uiters gebrekkig is, is uiters naïef. Die RABS-stelsel is eintlik niks anders nie as ‘n vorm van bedrog waar ‘n beter bedeling belowe word net om geld van die publiek te steel deur besparingsmetodes wat die eisers en publiek benadeel.
“Dit moet in gedagte gehou word dat die fondse van die Padongelukkefonds aan die publiek, en nie aan die regering nie, behoort. Die geld moet aangewend word om eisers te help om ‘n sinvolle lewe te leef. Enige iets anders is ongrondwetlik,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403