fbpx
Vryheidsfront Plus

Oorsigrol van Vrystaatse wetgewer word ondermyn

Dit is onaanvaarbaar dat belangrike gesamentlike komitees van die Vrystaatse wetgewer wat die Estina Vrede-suiwelprojek asook die Ramkraalprojek ondersoek, uitgestel is.

Hierdie komitees sou Vrydag vergader het, maar is ter elfder uur uitgestel. Dit is nie die eerste keer dat hierdie komiteevergaderings sonder goeie rede uitgestel is sedert die komitees in 2017 op die been gebring is nie.

Die twee gesamentlike komitees is tydens 2017 in die lewe geroep om die twee omstrede projekte te ondersoek.

Daar is steeds geen duidelikheid oor waarop nagenoeg R120 miljoen 'n dekade gelede bestee is met betrekking tot die Ramkraalprojek nie. 'n Nuwe Vrystaatse wetgewerkompleks sou op die gronde van die historiese Ramkraaltronk in Bloemfontein ontwikkel word. 'n Groot gedeelte van die R120 miljoen is bestee, maar geen wetgewerkompleks is in sig nie.

Dit is daarom belangrik dat alle betrokkenes by hierdie projek antwoorde gee. Die gesamentlike komitee is getaak om dit te ondersoek, maar kon egter sedert 2017 geen werklike antwoorde vind nie en die werksaamhede van die komitee word deur ‘n tekort aan samewerking van rolspelers ondermyn.

Die vergadering van hierdie komitee wat Vrydag sou plaasvind, is sonder rede uitgestel.

Die vergadering van die gesamentlike komitee belas met die ondersoek aangaande die Vrede-suiwelprojek, is uitgestel weens die feit dat die betrokke departemente en die Phumelela-plaaslike munisipaliteit glo nie beskikbaar was nie.

Die ANC wys hierdeur weereens dat hy geen ontsag het vir die oorsigrol van die Vrystaatse wetgewer nie. Hierdie twee omstrede projekte het belastingbetalers honderde miljoene rand uit die sak gejaag. Vrystaters het dus die reg om antwoorde te kry.

Die onwilligheid van die betrokke rolspelers om saam te werk, is onaanvaarbaar. Die ANC-beheerde wetgewer laat toe dat hierdie rolspelers sy oorsigmandaat belemmer.

Die VF Plus dring daarop aan dat departemente en ander rolspelers deur die wetgewer gedagvaar word om voor die komitees te verskyn en dat daar in die toekoms geen verskonings aanvaar moet word nie

Dit is tyd dat hierdie ondersoeke in belang van die inwoners van die Vrystaat afgehandel word en dat daar aanspreeklikheid moet wees vir die vermorsing van belastinggeld.

Navrae: 076 629 6219

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.