fbpx
Vryheidsfront Plus

Ooreenkoms met Euratom oor vreedsame gebruik van kernkrag – bekragtiging is noodsaaklik

Die nasionale vergadering het vandag 'n ooreenkoms oor die vreedsame gebruik van kernkrag met die Europese Atoomenergiegemeenskap bekragtig. Reeds in Julie 2018 het die Europese Unie (EU) die voormalige minister van energie, mnr. Jeff Radebe, daaraan herinner dat bekragtiging van Suid-Afrikaanse kant uitstaande is, terwyl alle nodige stappe aan EU-kant afgehandel is. 

Die feit dat Suid-Afrika se bekragtiging so lank uitstaande is, is simptomaties van die agteruitgang van bestuur van Suid-Afrika se kernenergievermoë. Terwyl die vorige regering die Koeberg-kragsentrale gebou het en, na bewering, ses kernbomme in verskillende stadia van voltooiing afgetakel is, ervaar kernverwante bedrywighede tans ernstige bestuursprobleme.

NECSA, of die Nuclear Energy Corporation of South Africa, se raad is (op enkele lede na) aan die einde van 2018 afgedank. Hoewel wêreldklas mediese – en nywerheidsprodukte steeds by Pelindaba wes van Pretoria vervaardig word, het NECSA as geheel voortgegaan om verliese op te stapel.

Die huidige raadsvoorsitter, Dave Nicholls, het vroeër vanjaar aan die parlementêre portefeuljekomitee gemeld dat 'n verwagte wins deur die Covid-19 in 'n verwagte verlies van meer as R330 miljoen omskep is.

Luidens mediaberigte is dit nie net banke nie, maar selfs die lisensiëringsowerheid en een van NECSA se filiale wat verplig is om krediet aan die instelling te verleen. Die aangekondigde herstrukturering van NECSA sal bes moontlik daartoe lei dat filiale gedwing sal word om vir wanbestuur in die houermaatskappy te betaal.

Volgens die VF Plus is dit noodsaaklik dat Suid-Afrika se kernbedrywighede goed bestuur word. Nie alleen is daar ekonomiese nadele indien dit nie gebeur nie, maar die gevaar van kernafval wat nog vir eeue skadelik is, kom met swak bestuur ter sprake.

Daarom is dit belangrik om deur ooreenkomste soos dié, nog moondhede by die bestuur daarvan te betrek. Die VF Plus het dus vir die bekragtiging van die ooreenkoms gestem.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.