(Debat in parlement oor matriekslaagsyfer van 2021)
In die ontleding van matriekslaagsyfers is kommentators geneig om net na syfers te kyk. In die proses maak hulle dieselfde fout as wat dikwels in skole gemaak word, naamlik die versuim om na die opvoedkundige werklikheid agter die syfers te kyk.
In skole is daar 'n toenemende neiging om sodanig op die aantal leerders met bepaalde punte te fokus, dat eksamenafrigting die plek van werklike onderwys en opvoeding inneem. Op dieselfde wyse moet 'n mens kyk watter opvoedkundige bydrae 'n bepaalde skool tot die plaaslike gemeenskap maak, eerder as bloot na die syfers.
Die werklikheid is dat onderwys oor mense gaan, mense en hul gesindhede teenoor die leerproses. Natuurlik het kinders wat in hul moedertaal skoolgaan 'n reuse voordeel, maar dit is nie al nie. Die gesindheid teenoor onderwys wat in 'n gemeenskap heers, is selfs meer bepalend.
Dit is hierdie opsig waarin die wanbalanse van die verlede die grootste skeiding tussen skole en leerders maak. Sedert 1976 is onderwys volgens die slagspreuk van "liberation before education" benader. Dit het beteken dat skole wat ontoereikend was, liewer gebrand as gebou is.
Onderwysers is as verraaiers beskou, omdat hulle deel was van 'n bedeling wat rewolusionêre leerders omver wou werp. Die reaksie van onderwysers was om leerders in hul politieke aktivisme te probeer oortref, in 'n poging om gerespekteer te word.
Die kloof tussen suksesvolle en onsuksesvolle skole in Suid-Afrika is nie die kloof tussen ryk en arm, wit en swart of stedelik en landelik nie. Dit is tussen die kultuur van leer in skole waar onderwysers aan verskillende vakbonde behoort.
Onderwys is 'n vennootskap tussen ouers, hul kinders, onderwysers en die res van die gemeenskap. In gemeenskappe waar daardie vennootskap eendragtig na goeie onderwys streef, wys die uitslae dit. Dit geld ook waar die teendeel geld.