fbpx
Vryheidsfront Plus

Mpumalanga se begroting fokus op verkeerde prioriteite

Die VF Plus kan nie Mpumalanga se begroting vir die 2022/23-finansiële jaar steun nie omdat dit steeds fokus op verkeerde prioriteite.

Sedert 2011 is meer as R300 miljoen bestee aan die ontwikkeling van ‘n kulturele kern op Witrivier en ‘n hoë prestasiesentrum op Belfast, maar beide die erwe staan steeds leeg.

‘n Verdere R70 miljoen word nou in die water gegooi vir die hoë prestasiesentrum in die huidige begroting.

Hierdie projekte was bedoel om Mpumalanga se ekonomie te stimuleer, werk te skep en die ontwikkeling van plaaslike talent en entrepreneurskap aan te moedig.

Geen van hierdie doelwitte is bereik nie en die twee projekte is soos vele ander gedoem tot mislukking en is ‘n vermorsing van belastingbetalersgeld.

Om die departement van gemeenskapsveiligheid se begroting van R1.524 miljard tot R1.501 miljard te verminder, is ‘n stap in die verkeerde rigting om die veiligheid van Mpumalanga se inwoners te verseker en toesig te hou oor die provinsie se polisie en wetstoepassingsagentskappe.

Mpumalanga is tans derde op die nasionale toerismebestemming-ranglys. Om die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme se begroting daarom van R1.637 miljard tot R1.498 miljard te verminder, spreek boekdele oor die ANC se insig en bestuursvermoë.

Provinsiale natuurreservate se infrastruktuur het onder ANC-bestuur totaal verval en selfs wild is nie meer te siene nie. Die begrote R50 miljoen vir die opgradering van al die provinsiale natuurreservate is nie genoeg om hulle tot hul eertydse glorie te herstel en toeriste te lok nie.

Die bykomende R43 miljoen wat aan die departement van openbare werke, paaie en vervoer toegeken is vir die herstel van die provinsie se padinfrastruktuur word verwelkom.

Dit is nogtans ‘n druppel aan die emmer in ag genome die toestand van die provinsie se paaie en die skade wat verlede jaar se storms en vloede aangerig het aan die reeds verflenterde padnetwerk.

Mpumalanga sal nooit sy volle potensiaal bereik solank as wat die ANC in beheer is en belastingbetalersgeld wanbestee en korrupsie ooglopend toelaat nie.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.