Terwyl die agterstand in toksikologiese verslae die strafregstelsel toenemend ondermyn, is daar jaar na jaar ander verskonings terwyl die probleem al hoe groter word.
Die minister van gesondheid, Joe Phaahla, erken onder meer in antwoord op vrae van die VF Plus oor die aangeleentheid dat “ongeskoolde personeel” deel is van die probleem.
Die VF Plus beskou dit as ʼn direkte gevolg van regstellende aksie (RA) waarvan dieselfde vernietigende gevolge in die res van die openbare sektor ewe sigbaar is.
Die ander redes wat die minister aanvoer, is ou laboratoriumtoerusting wat “voortdurend onklaar raak”, onvoldoende toerusting en dienste asook vertragings in die verkryging van materiaal wat benodig word vir die toetse.
Twee jaar gelede was die verskoning ʼn afwesigheid van saaknommers van die polisie.
Dit is onaanvaarbaar om jaar na jaar ander verkonings op te dis vir ʼn probleem wat net groter word en regspleging direk benadeel. Ten minste is die minister hierdie keer bereid om die probleem op sy naam te noem.
Die VF Plus het twee jaar gelede (Junie 2021) ook oor die agterstand gevra en die antwoord was toe dat altesame 28 181 monsters uitstaande was waarvan 7 889 vir langer as tien jaar.
Die huidige totale agterstand het vermeerder tot 35 776. Daar is ook bykans 10 000 uitstaande toetse ouer as vyf jaar.
Die VF Plus wou van die minister weet of die hulp van private ondernemings gebruik kan word om te help met die toetse. Die antwoord hierop is dat dit wetgewing sou verg aangesien die nasionale tesourie die uitgawes hieroor sal moet goedkeur.
Intussen is toetsing ook oorgeskuif van die nasionale departement van gesondheid na die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS).
Volgens die minister beskik die NHLS oor die nodige “kundigheid en hulpbronne” en is ʼn “meer gespesialiseerde” laboratoriumdiens. Dit wil dus voorkom of daar geen plan op die tafel is om die probleme by die departement se laboratoriums aan te spreek nie.
Alhoewel die departement van gesondheid die toksikologiese verslae saamstel, gaan dit in besonder oor motorbestuurders se bloedmonstertoetse vir alkohol.
Die polisie werk nie met hierdie verslae nie, maar wel waar dwelms ter sprake is. Die departement van gesondheid handel met die sake waar bestuur onder die invloed van alkohol ter sprake is. Die polisie verwys dié sake na die departement van gesondheid.
Hierdie probleem kan nie onbepaald voortduur nie en die VF Plus sal seker maak dat die skuif na die NHLS wel die gewenste resultate oplewer. Daar sal ook werk gemaak moet word van die probleme by die departement se laboratoriums.
Ek sal ʼn opvolgvraag hieroor stel en sal vra vir ʼn herstelplan wat die minister moet voorlê. Die enigste mense wat deur hiedie situasie bevoordeel word, is potensiële misdadigers.