Die minister van samewerkende regering, David van Rooyen, sal dringend moet seker maak die probleme rondom kieserslyste word opgelos sodat ‘n datum vir die komende plaaslike verkiesing bepaal kan word, sê dr. Pieter Groenewald, voorsitter en LP van die VF Plus.
Dr. Groenewald het vandag in ‘n ledeverklaring in die parlement gesê Suid-Afrika se Grondwet bepaal dat ‘n plaaslike verkiesing se datum binne 90 dae moet wees van die datum waarop die vorige verkiesing vyf jaar tevore plaasgevind het. Dit beteken dat vanjaar se verkiesing tussen 18 Mei en 17 Augustus moet wees.
Hy sê indien dit nie in dié voorgeskrewe tydperk kan plaasvind nie, beteken dit die Grondwet sal gewysig moet word.
“Die VF Plus doen daarom ‘n beroep op die minister om dringend aandag te gee aan die probleme rondom kieserslyste.
“Daar moet duidelikheid hieroor kom sodat die demokrasie in Suid-Afrika bevorder kan word. Indien die Grondwet gewysig moet word, sal dit die indruk skep dat die demokrasie in Suid-Afrika nie voorop gestel word nie en dat die kiesproses ‘n deurmekaarspul is.
“Die VF Plus doen daarom ‘n beroep op die minister, wat die datum in oorleg met die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) bepaal, dat ‘n verkiesingsdatum so gou moontlik bepaal word,” sê dr. Groenewald.
Volgens dr. Groenewald het die minister in sy spreekbeurt positief op die VF Plus se versoek gereageer en gesê hy sal als in sy vermoeë doen om seker te maak die verkiesing vind in die voorgeskrewe tyd plaas.