fbpx
Vryheidsfront Plus

Mabuza se teenwoordigheid gooi skadu oor poging van Ramaphosa om van vrot appels in kabinet ontslae te raak

‘n Kleiner kabinet soos belowe wat vertroue by beleggers sal inboesem en ‘n eerbare poging om van vrot appels uit die vorige bedeling soos Bathabile Dlamini en Nomvula Mokonyana ontslae te raak, is die positiewe aspekte.

Die negatiewe is die voortgesette teenwoordigheid van adjunk-president David Mabuza wat soos ‘n albatros om die president se nek hang. Dit is in ‘n neutedop die VF Plus se siening oor die kabinet wat president Cyril Ramaphosa vanaand aangekondig het.

Verrassings is die aanstelling van me. Patricia de Lille as minister van openbare werke en infrastruktuur, en die afwesigheid van die veteraan ANC-politikus Derek Hanekom.

Ander pluspunte vir die VF Plus is die teenwoordigheid van ministers wat vertroue afdwing in twee sleutelposisies. Hulle is die ministers van finansies, Tito Mboweni en van openbare ondernemings, Pravin Gordhan.

Hul teenwoordigheid sal positiewe seine uitstuur na potensiële beleggers en graderingsagentskappe oor beleggersmoontlikhede in Suid-Afrika. Hoe suksesvol hierdie boodskap gaan wees, is in die betrokke ministers se hande.

Die aanstelling van Thoko Didiza as minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling word ook verwelkom. Sy het vorige ondervinding en het gewys sy is bevoeg vir die portefeulje.

Die VF Plus is tevrede met die verkleining van die kabinet van 36 ministeries tot net 28. Dit kon egter verder verklein word aangesien daar in 2004 onder oud-president Thabo Mbeki net 26 ministeries was.

Wat adjunk-ministers aanbetref, is die situasie feitlik onveranderd. In die vorige termyn was daar 35 adjunk-ministers en dit is met slegs een verminder tot 34. Daar is dus nou ses meer adjunk-ministers as ministers aangesien daar in sommige ministeries twee adjunkte geplaas is.

Die adjunk-ministerskomponent is daarom steeds opgeblase en dit is jammer die president kon nie daarin slaag om hier ook sinvolle afskalings aan te bring nie.

Die VF Plus is oorsigtelik tevrede met die kabinet, maar kan die publiek van Suid-Afrika die versekering gee dat die regering en al die ministers se prestasie deeglik dopgehou sal word. Suid-Afrika se ekonomie het ‘n punt bereik waar daar nie verdere mislukking bekostig kan word nie.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.