Die waarnemende Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Panyaza Lesufi, het geen ander keuse gehad as om gehoor te gee aan die VF Plus se versoek om dié departement se regulasies oor die verspreiding van kos in die provinsie te skrap nie.
Die party het twee weke gelede Lesufi versoek om nie-regeringsorganisasies toestemming te gee om kos aan behoeftiges uit te deel. Dit is onmenslik om honger mense, veral kinders en bejaardes met leë hande weg te stuur.
Beide die VF Plus se nasionale voorsitter, adv. Anton Alberts, en LPW in die Gautengse Wetgewer, Amanda de Lange, het skrywes gestuur aan onderskeidelik die premier, David Makhura en Lesufi, waar baie sterk standpunt ingeneem is teen Lesufi se regulasies en gewys is op die geweldige implikasies daarvan vir honger en behoeftige gemeenskappe. Alberts en De Lange het ook op persoonlike vlak met die premier en die LUR in dié verband geskakel.
Die VF Plus het Lesufi versoek om eerder sy departement opdrag te gee om sopkombuise met hul onbaatsugtige werk te ondersteun om te help sorg vir diegene wat deur die regering gefaal word. Organisasies waarmee die party in kontak is, is meer as bereid om die Covid-19-regulasies streng na te kom. Daar word selfs gesigsmaskers en handreinigers aan honger mense uitgedeel.
Die regulasies het bepaal dat nie-regeringsorganisasies wat in besit is van ‘n permit slegs nie-bederfbare kospakkies mag versprei. Honger mense, waarvan baie op straat woon, het nie hulpbronne om kos gaar te maak of te stoor nie en is afhanklik van ‘n daaglikse toebroodjie wat hulle by ‘n sopkombuis ontvang.
Die VF Plus het Lesufi gemaan dat die regering nie alleen verantwoordelik kan wees vir die verspreiding van voedsel nie aangesien dit nie haalbaar is nie.
Die welwillendheid van mense mag nie gepolitiseer word nie en daarom het die VF Plus direk met Makhura en Lesufi geskakel om die dringendheid daarvan te beklemtoon en nie te wag vir ‘n uitspraak van die hooggeregshof nie.
Die terugtrekking van die regulasies wys wat volgehoue druk kan regkry teen onbillike regeringsoptrede.
Kontaknommer: 082 391 3117